Gedagte vir die dag: Satan kan nie doen wat hy wil nie

Foto:jumonville.wordpress.com

Foto:jumonville.wordpress.com

Matt 5:13-14- “Julle is die sout vir die aarde … Julle is die lig vir die wêreld”.

Die duiwel en sy werke word dikwels in die Bybel as die magte van die duisternis uitgebeeld. Jesus word die Lig genoem en Hy noem sy volgelinge ook “die lig vir die wêreld”. Lig staan teenoor duisternis; dit verdryf die duisternis.

Die Satan en sy demone is die bewerkers van die verderf. Soos kieme infeksie in die liggaam veroorsaak, bring die Satan morele en geestelike infeksie in ons lewe, in ons verhoudings en in die samelewing. Die Christen wat waarlik sout vír en ín die wêreld is, lê egter die duiwel en sy werk aan bande. So ’n gelowige is ʼn struikelblok in die pad van die duiwel en van hulle wat lief is vir sonde, boosheid en kwaad. ʼn Gelowige wat bereid is om onverskrokke “sout” te wees, oefen druk op die Bose uit, en bring mee dat boosheid, sonde en vuilheid traag en skaam is om kop uit te steek.

Elke mens het ʼn invloed op die openbare mening – of dit nou positief of negatief, goed of sleg, is. Deur nie standpunt in te neem vir wat reg is en waarin jy glo nie, help nie om die waarheid en dit wat reg is, te laat seëvier nie. Dit is soos die wegblystem tydens ʼn verkiesing – dit help niemand nie.

Die omvang van die sonde en verderf in ons wêreld word bepaal deur die mate waarin gelowiges slaag of misluk om “sout” te wees. Dalk het jy al die stelling gehoor: “All that is necessary for evil to prevail is for good men to do nothing.” Ons mag dit nie toelaat nie. Die Bose kan nie maar net doen wat hy wil nie. Solank die kerk van Christus op aarde is, sal die Gees van die Here ons gebruik om die Bose teen te staan.

Gebed: “Deur u krag, Here, wil ek aktief meewerk om die Bose en die duisternis te verdryf. Amen.”

Outeur: Dr. Isak Burger; President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.