
Argieffoto (Foto: Kelly Sikkema/Unsplash)
“Die hele nag lê ek wakker en oorpeins ek u woord” (Psalm 119:148).
Oordenking
Die nag is daar om te rus, sodat die mens weer die nuwe dag vars tegemoet gaan. Maar die nag is ook tyd vir stil wees. Tyd vir nadenke. Tyd vir terugdink en vir beplan vir môre.
Daarom is dit ook ʼn wonderlike geleentheid om jou verhouding met God te versterk.
Hoe doen ons dit?
Slegs met meditasie, om stil te wees en aan jou eie gedagtes vleuels te gee?
Nee. Daar is waardevoller nadenke moontlik. “Met oop oë gaan ek elke nagwaak in, sodat ek oor u woord kan nadink” (Psalm 119:148 AFR20). Of soos die NAV dit weergee: “Die hele nag lê ek wakker en oorpeins ek u woord.”
Ek gaan met oop oë, met my helder verstand, die nagwaak in, sodat ek oor u woord kan nadink.
Die Here spreek ons aan in sy Woord, die Bybel. Ons kan daaruit lees, daarna luister, en dit memoriseer. Maar ons moet ook daaroor nadink. Snags, wanneer ons ons sou bekommer oor sake buite ons beheer, kan ons die waarhede en troos van die Woord in ons gedagtes oproep.
- God is ons wetgewer, wat vir ons die pad aandui: dink na oor watter koers jy tans loop.
- Deur sy woord troos Hy ons: dink na oor jou seer, vind genesing uit sy bemoedigende woorde.
- Deur sy woord versterk Hy ons band met Hom: dink na oor sy beloftes, koester sy versekering dat Hy met ons is, elke dag en nag.
Gebruik die stilte van die nagwaak om met God en sy woord besig te wees.
Gebed
Ons Vader in Christus, ook in die nag is U ons Herder, wat nie sluimer of slaap nie. Deur u opgetekende woorde lei U ons gedagtes. Verryk ons wanneer ons snags daaroor nadink. Amen.
Pitkos
“Hier in u tempel oordink ons u trou, o God” (Psalm 48:10).
- Hierdie kort oordenking is saamgestel deur dr. Callie Opperman (Emeritus, Gereformeerde Kerk Windhoek-Suid). Dit vorm deel van Opperman se Manna en Kwartels vir die Gees wat in die Deo Gloria Kuberbrief Die oordenking word met toestemming van die skrywer op Maroela Media gepubliseer.