Gedagte vir die dag: Sien die kruis

h07-cross_sunset-10

Galasiërs 6:14 – Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld.

In my navorsing die afgelope maand vir hierdie reeks het dit my opgeval hoeveel van die liedere geskryf is deur mense wat nogal revolusionêr vir hulle tyd was. Dit is interessant om te dink dat vandag verkies baie gemeentes om eerder moderner liedere te sing aangesien die ou liedere as vervelig beskou word, terwyl ‘n paar honderd jaar gelede mense in die tronk gegooi is omdat hulle van die liedere gesing het.

Toe Isaac Watts in 1674 gebore is, was sy pa in die tronk omdat hy geweier het om die beleid van die gevestigde Kerk in Engeland te aanvaar. Sy pa is later vrygelaat, maar Isaac het sy moed en durf gerespekteer.

Watts het in sy pa se voetspore gevolg en hy het veral geglo dat geestelike liedere wat op die lewenservarings van Christene gebaseer is, ook in die eredienste gesing moes word. Die tradisie in daardie tyd was dat liedere op gedigte uit die Bybel, en dan veral die Psalms, gebaseer moes word. In 1707 het Watts ‘n liedboek, “Hymns and Spiritual Songs” gepubliseer. In die boek was die bekende lied “When I survey the wondrous cross” wat ons in Afrikaans ken as:
Aanskou die Heiland, sien die kruis
die Hemelvors, verag, verguis.
Vir my het Hy Hom daar laat hang,
Hy leef, Hy sterf – in my belang

Hy hang, van God en mens verlaat,
Hy seën waar ander spot en haat
Hy bly verdra, vergeef , versoen
in só ‘n redder sal ek roem.

Daar word dikwels na hierdie klassieke lied van Isaac Watts verwys as die gewildste geestelike lied in die Engelse taal. Die lied verskil wel van die Engelse liedstyl van daardie tyd wat net Bybelse tekste geparafraseer het, maar is tog getrou aan die Bybelse boodskap. In die tweede strofe begin die Engelse lied met “Forbid it, Lord, that I should boast” wat ‘n duidelike parafrase van ons teksvers is. Die belangrikste is egter dat hierdie lied die essensiële waarhede van die evangelie bevat. Watts het verstaan wat Paulus in Galasiërs bedoel het –– ons kan niks uit onsself bereik nie. Dit maak nie saak hoe goed ons dink ons is nie, of hoe ryk of slim ons is nie, ons kan nie onsself red nie. Deur oor die kruis te roem bevestig ons wie ons Redder is. Deur die kruis voorop te stel, erken ons dat dit slegs deur genade is dat ons gered is en nie deur ons eie werke nie.

Om oor die kruis van ons Here Jesus Christus te roem, was nou nie juis gewild in Paulus se tyd nie, en dit het ook nie verander nie. Mag hierdie ou lied, waarvan eens gesê is dat dit gemeentes laat dwaal, ons vandag daaraan herinner ons geloof met moed en durf uit te leef.

Gebed: Hemelse Vader, gee dat ek soos Paulus, slegs sal roem oor dit wat Jesus aan die kruis vir my gedoen het en nie oor dit wat ekself bereik nie. Vergewe my my trots en vir al die kere wat ek te skaam was om my geloof te bely.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.