Gedagte vir die dag: Sing ʼn nuwe lied

Psalm 22:4 – U is die Een wat baie belangrik en groot is. U kinders het groot respek vir U. U is waar hulle U loof.

Ek kan my vergaap en verluister aan die baie individue en groepe wat wêreldbekend is as gevolg van hulle sang. Hulle sing oor die liefde, oor die blomme, oor die geweld in die wêreld, oor mense wat nie bestaan nie, oor drank, oor seks, oor dwelms, oor enige iets sinvols en baie keer sinloos. Die belangrike is hulle sing en hulle maak geld en is baie beroemd en baie belangrik. Dan is daar mense wat iets van Psalm 22:4 verstaan: dat God wil hê ons moet uit respek lofliedere vir Hom sing. Daar is vir my min dinge so bevredigend en diep as om God se lof te besing met ʼn lied soos “White flag” van Chris Tomlin. Met die lied kan ek myself en elke aspek van my lewe oorgee aan die Here. Dit is mos die betekenis van ʼn wit vlag wat gehys word. Hillsong het ʼn hele CD uitgebring met die titel Hope en daar is onder andere ʼn lied op , “My Hope” wat so opbouend is. Ja, almal is nie ewe musikaal nie. Vra my, ek weet. Daarom is daar soveel wonderlike musiek op die mark wat God se liefde en genade vir ons besing. Daar is soveel musiek met uitstekende opbouende inhoud, anders as leë-dop-doef-doef-musiek wat net jou kop seermaak. Sing vir die Here! Of jy nou op die noot is of tussen die note, sing diep uit jou hart uit. Loof die Here!

Gebed: Here, U is goed. U is nuwe lewe. U maak my vry. U bring verlossing. U is hoop en U gee hoop. U genade het my lewe diep aangeraak. Ek sing vir U, Here! Ek loof U naam!

Lof aan God is seker die enigste van ons aktiwiteite hier op aarde wat onveranderd in die hemel voortgesit kan word. Lof is nie net ʼn uitdrukking van ons vreugde oor God nie, dit is ook die voltooiing daarvan. – CS Lewis

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.