Gedagte vir die dag: Skep ruimte vir mekaar

Eksodus 20:14– Jy mag nie egbreuk pleeg nie.

Egte en standhoudende verhoudings berus op ware, wedersydse liefde en respek. So ’n liefde behoort gemodelleer te word op God se liefde – dié liefde wat Hy prakties kom wys het in Jesus Christus. Die Bybel is vol van sulke voorbeelde. Kom ons kyk vandag na ’n paar van hulle.

In Markus 9 lees ons van vier beginsels wat ook op verhoudings van toepassing is:
• Ons moenie met mekaar kompeteer oor wie die belangrikste is nie, maar mekaar as gelykes respekteer (vers 35);
• Moenie bedreigd voel deur jou maat nie (vers 40);
• Moenie vir die ander ʼn struikelblok word nie (vers 42);
• Gee smaak aan julle verhouding (vers 50).

In 1 Korintiërs 13 word soveel mooi dinge oor die liefde geleer:  Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

In praktyk kom dit daarop neer dat ons weer moet leer om met mekaar te kommunikeer. Praat gereeld met mekaar – nie net oor koeitjies en kalfies nie, maar oor die dinge wat julle verhouding laat groei. Luister met aandag na mekaar – nie terwyl jy dink hoe jy moet reageer nie, maar om te begryp wat werklik bedoel word. Let op mekaar se lyftaal, wat dikwels meer sê as enige woorde.

Skep tyd vir mekaar in julle bedrywige skedule. Doen dinge saam. Wees ‘waaghalsig’ en innoverend. Skep ruimte vir elkeen se uniekheid. Probeer om jou maat ten minste een kompliment per dag te gee en minder te kritiseer. Peins bietjie oor al die mooi dinge wat julle al saam beleef het. Lag gereeld saam – soms oor die ‘dom’ goed wat julle aangevang het. Vul mekaar aan – nie val mekaar aan nie!

Groei saam in julle geloof en verhouding met die Here. Word deel van ’n geloofsgemeenskap, waar julle gestimuleer word. Bid gereeld saam met en vir mekaar.

Gebed: Here, help my om my maat te waardeer en aan te vul. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.