Gedagte vir die dag: Skuldenaars voor God (1)

Luk. 7:40-41 – Maar Jesus spreek hom aan en sê: ‘Simon, Ek het iets om vir jou te sê.’ ‘Meneer, sê dit maar!’ antwoord hy. Jesus sê toe: ‘Twee mense was in die skuld by ’n geldskieter. Die een het vyf honderd rand geskuld en die ander een vyftig’.

Terwyl die vrou nog daar by sy voete gekniel staan, gebruik Jesus ʼn beeld uit die alledaagse lewe om ʼn groot waarheid by Simon, die Fariseër, tuis te bring. Dit was ’n beeld wat Simon, en almal wat daar was, goed verstaan het. Jesus gebruik twee mense se skuldsituasie om Simon en die vrou (en eintlik alle sondaars) se posisie voor God te verduidelik.

Wat die Here Jesus eerstens vir Simon – en vir ons – wil sê, is dat sonde “skuld” voor God is, en daarom is alle sondaars skuldenaars voor Hom. In hierdie verhaal wat Jesus vertel, is daar twee skuldenaars, alhoewel die een dieper as die ander in die skuld is. Die een skuld maar ʼn tiende van wat die ander een skuld. Die Here tref hier wel ʼn onderskeid tussen mense wat uiterlik aanvaarbaar, ordentlik en respektabel leef, en dié wat sonder skaamte openlik sondig. “Ja”, wil die Here vir Simon sê, “jy is wel beter as wat hierdie vrou was. Sy was onbetaamlik, onrein; sy het immoreel geleef; sy was berug. En jy, Simon, jy is ʼn gerespekteerde man met hoë morele waardes, verfyn, opgevoed, onbesproke en eerbaar. Jy is ʼn beter mens as wat sy was. Jy het veel minder skuld as sy. Jou skuld is maar R50 teenoor haar R500.

“Maar, Simon, verstaan nou mooi: Alhoewel die een tien keer minder skuld as die ander een het, is al twee skuldenaars. En nie een van die twee kan hul skuld betaal nie!”

Gebed: “Here, ek erken dat elke mens, ongeag hoe hy of sy leef, ʼn skuldenaar voor U is en dat ons almal U genade en vergifnis nodig het. Amen.”

Outeur: Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.