Gedagte vir die dag: Skuldenaars voor God (2)

Luk. 7:41-42 – Jesus sê toe: “Twee mense was in die skuld by ’n geldskieter. Die een het vyf honderd rand geskuld en die ander een vyftig. Omdat hulle niks gehad het om mee te betaal nie, het hy die skuld vir albei kwytgeskel. Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys?”.

Soos Simon die Fariseër en hierdie sondige vrou, en soos die twee skuldenaars in Jesus se gelykenis, tref ons vandag steeds dieselfde twee kategorieë mense aan: dié wat ’n goeie lewe lei en nie (openlik) by erge sondes en boosheid betrokke is nie, en dié wat onbeskaamd sonde doen en sonder inhibisie leef, net soos hulle wil. Die mate waarin hulle God se wette verontagsaam, pla hulle nie.

As ’n mens die sondige natuur van die mens met ʼn perd kan vergelyk, kan jy die twee kategorieë sondaars as twee soorte ruiters voorstel. Die een hou die teuels styf vas en hou die perd in bedwang; die ander een gee die perd vrye teuels op die perd en hy gaan net waar hy wil. Die feit is dat ons in al twee gevalle met ʼn sondige natuur te make het – die een persoon oefen net meer beheer daaroor uit as die ander.

Dieselfde gebeur in die gelykenis wat Jesus gebruik: Al twee hierdie mense is skuldenaars. Albei staan in dieselfde verhouding met die geldskieter, alhoewel die bedrag wat hulle skuld, verskil. Romeine 3:23 sê immers: “Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie.”

Onthou, ten spyte van die verskil tussen hierdie twee mense, is daar ook ʼn fundamentele ooreenkoms tussen hulle: Al is jy ʼn gerespekteerde mens wat nog nooit ʼn landswet verbreek het nie en skaars van enige onwelvoeglikheid en onfatsoenlikheid beskuldig kan word, en al is die ander persoon ʼn dronkaard en wellusteling – voor God staan albei as skuldenaars. Dit is net die grootte van ons skuld wat verskil. Albei is totaal afhanklik van Sy genade.

Gebed: “Here, ek besef dat niemand hom- of haarself voor U kan verontskuldig nie. Ons almal het u genade só nodig! Amen.”

Outeur: Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.