Gedagte vir die dag: Skuldenaars voor God (3)

Luk 7:41-42 – Jesus sê toe: “Twee mense was in die skuld by ’n geldskieter. Die een het vyf honderd rand geskuld en die ander een vyftig. Omdat hulle niks gehad het om mee te betaal nie, het hy die skuld vir albei kwytgeskel. Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys?”.

Wanneer ons oor die sonde en skuld van mense praat, moet ons altyd onthou dat God veel dieper as die oppervlak sien. Hy sien veel meer as wat ons sien. God oordeel ook anders as wat ons oordeel. As ons die oneindige kompleksiteit van motiewe kon raaksien wat tot ʼn enkele daad aanleiding gegee het, sou ons nie sommer so gou gewees het om te sê dat een mens ʼn groter sondaar as ʼn ander een is nie.

Kom ek probeer dit verduidelik. Twee mense koester byvoorbeeld dieselfde onsedelike gedagtes of boosheid in hul harte. Die een gee op ʼn “beskaafde” manier daaraan uiting; ’n manier wat meer diskreet en sosiaal aanvaarbaar is. Die ander een doen dit blatant, net soos hy of sy in sy of haar hart daaroor voel. Die een word deur ʼn hof veroordeel en deur die gemeenskap verwerp, terwyl die ander een steeds hoë agting in die gemeenskap geniet en selfs ’n prominente persoon in die kerk kan wees.

Dít is nou volgens die oordeel van mense. Die vraag is: Is die een in die oë van God ʼn groter sondaar as die ander een? Jy sien, God kyk eerstens en bowenal na die hart. Dis waarom Jesus in sy bergrede die ware betekenis van die tien gebooie gee. Byvoorbeeld: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg” (Matt 5:27–28).

Gebed: “Here, ek wil my gedurig herinner aan u Woord wat sê: Mense sien wat voor hul oë is, maar God sien die hart. Amen.“

 Outeur: Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.