Gedagte vir die dag: Soos ‘n boom (vervolg)

Gister het ons gepraat oor hoe ons as Christene soos bome moet wees. Ons moet deur God geplant word en ons moet produktief wees en goeie vrugte dra.  Daar is twee verdere kenmerke van bome waarvan ons kan leer – bome is ‘n lus vir die oog en hulle floreer.

Jeremia 17:7-8
Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel,
die mens vir wie die Here ‘n veilige vesting is;
so iemand is soos ‘n boom wat by water geplant is
en sy wortels na die stroom toe uitstoot,
nie die hitte voel as dit kom nie
en altyd groen blare het
‘n droë jaar raak hom nie:
en hy hou nie op om vrugte te dra nie.

Bome is ‘n lus vir die oog
Kyk na die woorde in Jeremia: “en altyd groen blare het”. Nie net sal hierdie boom wat by water geplant is, vrugte dra nie, maar sy blare gaan nie verdroog nie. Hoekom het ‘n boom blare? Daar is verskeie wetenskaplike redes, maar daar is ook ‘n eenvoudige rede – ‘n boom het blare om dit mooi te laat lyk.  Bome is bedoel om mooi te lyk, hulle is dikwels daar om die droeë en lelike landskap te verfraai. Bome wat by waterstrome geplant is het ‘n voortdurende bron van lewe en is vol groen blare wat nie verdroog nie. Hulle is welig en altyd mooi.

Ons as Christene het ons eie bron van lewe – die Heilige Gees. Niks is mooier as ‘n Christen wat onder leiding van die Heilige Gees leef nie.

Bome is voorspoedig
Die boom in Jeremia is nie bekommerd gedurende die warm, droeë seisoen nie. Hy stuur sy wortels uit na die stroom en bekommer hom nie oor die droogte nie. Miskien ken jy iemand wat hom of haar op die oog af oor niks bekommer nie, altyd glimlag of loop en sing.  Dit is nie dat die wêreld sulke persone nie raak nie; hulle merk dit net nie op nie want hulle is naby aan die water. Die Here is ons bron. As ons ons vertroue in Hom stel, het ons nie nodig om bang te wees nie.

Gebed: Here, help my om my vertroue in U te stel. Laat my soos ‘n mooi boom volgens U wil groei. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.