Gedagte vir die dag: Spring aan die werk!

Rut, die Moabitiese vrou, vra toe vir Naomi: “Mag ek lande toe gaan om are op te tel by iemand wat my toelaat om dit te doen?” Naomi antwoord haar: “Gaan gerus maar, my dogter.” Rut 2:2

Om ander te dien is iets wat ek weet ek meer dikwels en meer gewillig moet doen, maar soos die spreekwoord lui, dit is makliker gesê as gedaan. En om diegene naaste aan my van diens te wees, veral my gesin, is dikwels die moeilikste van almal. Gelukkig is daar baie voorbeelde van godvresende mans en vroue in die Bybel wat oor die hart van ‘n dienskneg beskik het en wat geseën is vir hulle welwillendheid, onselfsugtigheid, harde werk en nederigheid.  Rut is een so ‘n uitstekende voorbeeld van ‘n vrou wat die behoeftes van haar familie bo haar eie gestel het.

Rut se verhaal is baie bekend. Dit is die verhaal van die toewyding en getrouheid van ‘n Moabitiese vrou wat na die dood van haar man haar vaderland, Moab, verlaat en saam met haar skoonma in Israel gaan bly. Rut neem dit op haarself om die skoonma wat sy opreg liefhet, te dien. Toe ek vir die hoeveelste keer weer hierdie verhaal lees, het die manier wat Rut Naomi gedien het, my opgeval. Rut het gaan werk. Rut het nie net eenvoudig liefdadigheid aanvaar nie; sy was vasbeslote om genoeg te verdien om vir haarself en vir Naomi te sorg.

Toe Rut en Naomi in Betlehem aangekom het, was hulle baie arm. Rut moes Naomi versorg, so sy het dae in die lande deurgebring om are op te tel. Om jou gesin te versorg verteenwoordig miskien nie ‘n glansryke loopbaan nie, maar diensbaarheid is nie veronderstel om glansryk te wees nie.

Uit Rut se verhaal leer ons ook hoe God nederigheid en die gewilligheid om ander te dien, beloon. Hy seën Rut deur haar te lei na die land van Boas, ‘n ryk man met wie sy later getroud is. So dikwels wil die Here ons seën, maar ons trots, gierigheid of wêreldsheid is in sy pad.

Gebed: Here, ek wil graag my gesin dien. Help my om oor die gesindheid van Jesus te beskik en om hulle behoeftes bo my eie te stel. Leer my om meer soos Rut te wees. In die Naam van Jesus. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.