Gedagte vir die dag: Stop!

Argieffoto (Foto: Priscilla du Preez/Unsplash)

“Vir alles in die lewe, die goeie of die slegte, sien ek kans omdat Jesus my bron van krag is” (Filippense 4:13).

Skrifgedeelte
Filippense 4:13

Oordenking
Hierdie tyd van die jaar loop ons met uiters gemengde gevoelens rond: Ons is regtig moeg gewerk, maar weet ons moet juis nou ernstig vasbyt voordat ons ʼn blaaskans kry. Ons is dikwels juis nou totaal en al oorspanne en droom regtig al oor die paar niksdoen-dae wat voorlê. Ons verlang na ons mense wat ons heeljaar te min gesien het, maar hou ook ons harte vas vir die moontlike irritasies wat daar dikwels met ons familie-samekomste ontstaan. Omdat ons so besig is, het ons die laaste tyd ons stiltetyd nogal afgeskeep en voel ons half te skuldig om nou weer na God toe te draai. Natuurlik sien ons uit na die wonderlike sy van die Kerstyd, maar ons moed sak sommer in ons skoene as ons dink aan al die Kersinkopies.

Omdat hierdie so ʼn druk tyd van die jaar is, is dit juis nóú die tyd om sommer net weer tyd af te knyp vir daardie kosbare gaan-sit-sommer-net-by-jou-Vader-tye. Wanneer jy dit die minste kan bekostig om “niks” te doen nie, sal jy agterkom hoe jy met ongelooflike krag en moed gevul word as jy wél tyd vir asemhaal-oomblikke saam met die Gees maak.

  • Hierdie oordenking verskyn in Net soos jy is deur Milanie Vosloo. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.