Toe staan Hanna in Silo op nadat hulle geëet en gedrink het, terwyl die priester Eli op die stoel by die deurpos van die tempel van die Here sit. En bitter bedroef het sy tot die Here gebid en bitterlik geween; en sy het ʼn gelofte gedoen en gesê: Here van die leërskare, as U waarlik die ellende van u diensmaagd aansien en aan my dink en u diensmaagd nie vergeet nie, maar u diensmaagd ʼn manlike kind skenk, dan sal ek hom aan die Here gee al die dae van sy lewe; en geen skeermes sal op sy hoof kom nie (1 Samuel 1:9-11).
Skrifgedeelte
1 Samuel 1:9-19
Oordenking
Wat is dit nie om te kan bid nie? Tog kan ʼn mens die gebed so maklik tot ʼn versoeklys verskraal. ʼn Paar aankondigings van God se grootheid, enkele uitings van dankbaarheid en dan ʼn rits versoeke. So ʼn gebed hou natuurlik ook nie lank aan nie, want dis nie ʼn gesprek nie, dis ʼn koue monoloog. In ons teksgedeelte kry ons vir Hanna wat bid. Sy bid lank en aanhoudend – net haar lippe roer. Eli sê vir haar: Hoe lank wil jy jou soos ʼn dronk mens gedra? Hy kon nie verstaan dat sy so lank bid nie, want hy kon nie hoor wat sy sê nie. Hanna se antwoord leer ons wat gebed is: Ek het my siel voor die aangesig van die Here uitgestort. Dis weens al my hartseer en pyn dat ek tot nou gebid het. Alles wat hier diep in haar hart was, alles wat ongesê gebly het teenoor Elkana, selfs teenoor haarself, het sy nou gesê. ʼn Mens sou kon vra: Weet God dit dan nie, waarom moet ons dit nog sê? Dis die aard van God se verbond met ons. Die vraag is nie of God dit weet nie, maar of Hy dit wil hoor. Die wonder is, ons Vader wil dit alles hoor, alles wat in ons harte is. Hy wil hê dat ons Hom sal vertrou met ons diepste bekommernisse en ons diepste vrese, ons ergste pyn en spanning. So innig is sy verbondsliefde. Hy wil hê dat ons toevlug by Hom sal neem. Dawid sê deur die Gees in Psalm 62:9: Stort julle hart uit voor sy aangesig, God is ʼn toevlug vir ons. Ons kan Hom nie belas nie. Christus roep ons dan op om ons laste aan Hom oor te gee. Hy word nie moeg of afgemat nie. Wanneer laas het jy werklik so gebid? Jouself totaal aan God toevertrou sonder om na die horlosie te kyk? Hoe dikwels gebeur dit dat ons met mense praat oor wat in ons aangaan, die sielkundige of berader of predikant, maar van die Here vergeet. In ons samelewing met sy kitsoplossings bid ons graag vinnig en op die punt af om klaar te kry en voort te gaan. Hanna het besef dat sy net kan voortgaan as sy haar toevlug tot die Here neem, haar siel voor die Here uitstort. Daarom sê die Bybel haar gesig het anders gelyk nadat sy so gebid het. Laat ons opnuut weer leer om soos Hanna te bid.
- Hierdie kort oordenking is saamgestel deur ds. RA Bain (Cachet). Dit het oorspronklik in die Almanak van die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika (GKSA) verskyn en word met toestemming van die GKSA Almanak se redaksie op Maroela Media gepubliseer.
Baie dankie vir die boodskap.