Gedagte vir die dag: Stroom-op

Foto: education.nationalgeographic.com

Foto: education.nationalgeographic.com

Ps 69:16 – Moenie dat die stroom my meesleur en die diep water my insluk nie, en moenie dat hierdie put toegaan bokant my nie.

“Niemand wat met die stroom saamgaan, het nog ooit ‘n positiewe verskil gemaak nie.” Ons ervaar almal groepsdruk. “Almal maak. so,” is die argument wat baie kinders gebruik as hulle iets wil doen wat nie reg is nie.
“Almal” – die meerderheid – is egter feitlik sonder uitsondering verkeerd. Dit is een van die groot probleme van demokrasie! “Die sondige natuur van die mens laat jou oorhel in die rigting van die verkeerde,” het ‘n kerkvader geskryf. Dit is een van die hoofredes waarom die Here dit nodig gevind het om die Bybel aan ons te gee, sodat ons sy wil kan leer ken, en uit die foute en suksesse van ander kan leer. Dawid bid in hierdie psalm dat hy nie met die stroom sal saamgaan nie. Hy wou anders wees. Hy weet dat die keuses wat ander mense maak, soos ʼn diep put is waaruit ‘n mens nie weer kan kom nie. By Kleinmond is daar op sekere tye van die jaar ‘n baie sterk dwarsstroom wat jou diepsee toe vat as jy daarin beland, en baie mense was al daardeur in die moeilikheid. ‘n Mens moet daarvan bewus wees en sorg dat jy nie in die stroom beland nie. Dit kan jou lewe kos. Die meerderheid mense sal nie vandag kerk toe gaan nie. Ander dinge is vir hulle belangriker as om hulle aan die Here toe te wy. Die vraag is egter nie wat hulle gaan doen of nie doen nie. Die belangrike besluit is: Wat gaan jy doen?

Gebed: “Here, ek kan net vir ander help as ek self nie in die stroom is nie. Bewaar my van verkeerde besluite.”

Bron: Uit die Beek -Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.