Gedagte vir die dag: Sý aanraking maak ‘n verskil

Teksvers: “Hulle sê toe vir Hom: ‘Ons het hier net vyf brode en twee visse.’ ‘Bring dit vir My hier,’ sê Hy” (Matt 14:17-18).

Net vyf brode en twee visse. Nie groot brode en visse nie. Tipiese plat Joodse broodjies en waarskynlik die sogenaamde Sint Petrus-vis – ʼn soort kurper (tilapia) wat algemeen in die See van Galilea voorgekom het. Dit was klein genoeg om in ʼn seuntjie se reissak te pas.

​Hoe min, hoe ontoereikend is hierdie karige voorraad kos wanneer jy na die skare honger mense kyk! Miskien sal dit genoeg wees vir twee of drie mense.

Sonder die aanraking van Christus het ons inderdaad nie veel om te gee nie, is ons so ontoereikend wanneer ons wil voorsien in die omvangryke nood van die wêreld. Maar wanneer die dissipels bely en erken dat hulle vermoëns so beperk is, dat hulle slegs tot ’n geringe voorraad toegang het, hoor ons hierdie wonderlike woorde van Jesus in Mattheus 14:18: “Bring dit hier vir My.” Die eenvoudigste dinge word in die hande van Jesus iets wonderliks. Sy aanraking maak ʼn groot verskil.

​Tydens sy bediening op aarde is daar so baie mense na Hom gebring wat sy aanraking nodig gehad het. Mense het siekes na Hom toe gebring, verlamdes, blindes, dowes, stommes en dié wat van bose geeste besete was. Ma’s het hulle kinders na Hom toe gebring sodat Hy hulle kon aanraak. Skrifgeleerdes en Fariseërs het ʼn vrou wat in sonde betrap is na Hom gebring. Hy het haar nie veroordeel nie, maar haar bevry en haar in vrede weggestuur.

​Jesus het altyd vir dié wat na Hom toe gebring is, iets gedoen. Sy aanraking het telkens ʼn verskil gemaak. Daarom kan ook ek en jy die vrymoedigheid hê om in kinderlike vertroue mense na Hom toe te neem en self na Hom toe te gaan. Bring jou kinders, jou ouers, jou familie, jou vriende na Jesus toe. Bring jouself, jou hele lewe na Hom toe – sy aanraking maak ʼn verskil!

Gebed: Ek wil presies dít vandag doen, Here. Ek het u aanraking so bitter nodig. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger, President van AGS van S.A.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.