Gedagte vir die dag: Sy aanraking

helping_handMark 1:41 – “Jesus het hom jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak”.

Hoekom sou Jesus sy hand uitsteek en hierdie melaatse man aanraak? Hierdie man was immers onrein, en volgens die godsdienstige wette van Israel mag niemand naby hom gekom het nie, en nog minder aan hom geraak het! Behalwe dat hy seremonieel onrein was, was sy siekte ook hoogs aansteeklik. Kon Jesus nie maar op ʼn afstand bly staan en net vir hom gebid het nie? Kon Hy nie maar, soos by ander geleenthede, net ʼn woord gespreek en hom gesond gemaak het nie? Waarom raak Hy aan die man?

Dit is veelseggend, aangrypend, dat Jesus juis hierdie man – van wie almal weggedeins en weggevlug het – aanraak. “He touched the untouchable.” Wat ʼn besef! Jesus was bereid om die onreinstes aan te raak; Hy was bereid om sy hand na die onwaardigstes uit te steek! Jesus was nie vals en skynheilig nie. Hy het nie ʼn skyn voorgehou nie. Hier sien ons ware liefde in die praktyk uitgeleef. Wat ʼn voorbeeld vir die kerk en vir ons as gelowiges! Iemand het dit só gestel: “To touch the untouchable; to love the unlovable; to forgive the unforgivable.” Deur hierdie man aan te raak, wou Jesus vir hom sê dat God vir hom omgee en dat hy vir God saak maak. Ja, Hy kon net ʼn woord gespreek het, maar sy aanraking het genesing gebring vir meer as net die melaatsheid. Mense wat melaats was, het gewoonlik ook erge verwerping ervaar. Ook sy psige, sy emosies, was verwond en verniel. Verwerping, die afwesigheid van liefde, is immers die grootste armoede wat daar is. Daar is ook min dinge waaraan mense ’n groter behoefte het as aan warm, deernisvolle en liefdevolle aanraking. Liefdevolle aanraking is meer as ʼn fisieke gebaar. Dit doen iets aan die diepste wese van die mens.

Gebed: “Dankie vir U aanraking in my lewe, Here. Amen.”

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.