Gedagte vir die dag: Sy het gedoen wat sy kon

Markus 14:8Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam gesalf as voorbereiding vir my begrafnis.

Op ons lewenspad kom daar oomblikke waar ons Christelike geloof ons tot aksie aanspoor. So ‘n oomblik het plaasgevind in die lewe van die vrou waarna ons teksvers vandag verwys en die woorde van die teks is die woorde van Jesus self.

Wat ‘n uitsonderlike vrou moes sy nie gewees het nie.  In die tyd toe melaatsheid ‘n gevreesde bedreiging was, het sy nie gehuiwer om die huis van Simon die melaatse te besoek nie. Dit moes moed geverg het. Die vrou het egter geweet dat Jesus daar was en sy wou aan Hom eer bewys.

Sy gaan die huis binne en vind ons Here Jesus Christus aan tafel. By haar het sy ‘n houer met nardusolie.  Nardusolie was ‘n baie skaars en baie duur kommoditeit.  Sy het die fles oopgebreek en die inhoud daarvan op Jesus se kop uitgegiet, vir sommige ‘n impulsiewe spandabelrige gebaar.

Party van die mense wat teenwoordig was het onder mekaar hulle verontwaardiging uitgespreek. Die hoeveelheid nardusolie wat sy uitgegiet het was gelykstaande aan die jaarlikse loon van ‘n werker. Hulle was van mening dat die kosbare reukolie eerder verkoop moes word en die geld aan die armes gegee moes word.  Haar vrygewigheid en liefdevolle deernis het Jesus egter diep geraak en Hy kom tot haar verdediging. “Laat staan haar,” het Jesus gesê. “Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het ‘n goeie daad aan My gedoen.”

Die naam van hierdie vrou is nie vir ons opgeteken nie, al wat ons van haar weet is dat sy gedoen het wat sy kon.  Jesus sê: “Dit verseker Ek julle: Oral waar die evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot ‘n herinnering aan haar.” Markus 14:9

Jy kan ook die verhaal van hierdie vrou en haar wonderlike daad met ander deel.  Een manier om dit te doen is om by die Bybelgenootskap se Bybel-per-Maand Klub aan te sluit en te help om Bybels regoor die wêreld beskikbaar te stel. 

Gebed: Here Jesus help ons om ander van u liefde en deernis bewus te maak.  Ons bid dit in u Naam. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

Soveel geleenthede om mee te help sodat Sy naam aan die wêreld verkondig kan word – maar tog so besig met eie belang dat ons Sy belang vergeet of ondergeskik stel aan ons eie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.