Gedagte vir die dag: Sy kant gebring

h07-cross_sunset-10Hand 20:26-27 – “Daarom verklaar ek vandag dat dit nie my skuld is as enigeen van julle verlore gaan nie, want ek het nie nagelaat om die heilsplan van God in sy volle omvang aan julle te verkondig nie”

“Wat sy kon, het sy gedoen,” het Jesus van Maria, die suster van Lasarus gesê nadat sy sy voete met kosbare olie gesalf het (Mark 14:8). Wat ‘n pragtige getuienis. ‘n Mens sien soms hierdie woorde op die grafsteen van iemand wat besonder baie gedoen het om ander mense te help. Paulus het so iets van homself gesê. Hy herinner Efese se ouderlinge daaraan dat hy drie jaar lank daar tussen hulle gewerk het, en “nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie” (Hand 20:31). Hy het hulle nie hooghartig veroordeel nie, maar hulle met trane bearbei. Wat vir hom belangrik was, was nie net dat hulle kos en klere moes hê en gesond moes wees nie, maar veral dat hulle die Here moes leer ken. Hy het die volle implikasie van geloof in Christus aan hulle verduidelik – en dit self uitgeleef. “Woorde wek, maar voorbeelde trek.” Daardie ouderlinge het self gesien hoe dit gedoen moet word. En die mense van die wêreld verlang om iemand te sien wat eg is in die uitleef van sy of haar geloof. Kan ons ook dieselfde as Paulus sê? Was ons ook getrou in die uitdra van die evangelie aan ons lewensmaat, kinders, kleinkinders, werknemers, werkgewers, vriende en bure? Dit kan maklik gebeur dat ons baie aktief is in die kerk, terwyl ons eie gesin besig is om verlore te gaan. Wat moet verander sodat ons ook dieselfde as Paulus sal kan sê?

Gebed: “Here Jesus, maak my asseblief getrou daarin om die evangelie met almal om my te deel.”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.