Gedagte vir die dag: Sy krag is groter

Mark 5:27-29: “Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en van agter af aan sy klere geraak, want sy het gedink: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word. En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog”.

Hierdie vrou, wat twaalf jaar lank aan die ongesteldheid gely het wat vroue in daardie dae waarskynlik die meeste gevrees het omdat dit hulle in dieselfde kategorie as die melaatses geplaas het, het aan Jesus se klere geraak. Volgens Levitikus 15 het sy Jesus daardeur onrein gemaak.

Dieselfde het gebeur elke keer wanneer Hy die melaatses aangeraak het. En toe Hy geraak het aan die draagbaar van die jongman van Naïn wat gesterf het. Dit alles word in die wet van Moses beskryf as dinge wat jou onrein maak.

In ‘n sekere sin hét dit ook simbolies met Jesus gebeur. Hy het inderdaad die onreinheid, die smart en die siekte van hierdie vrou en die melaatses, trouens, van ons almal, op Hom geneem. Dit is immers wat Jesaja geprofeteer het: “Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra … die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom … maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom” (Jes 53:4-6).

Tog het daar ook iets anders, iets mooiers, iets groters gebeur. Jesus se krag en genesing het die melaatsheid oorkom. Die melaatses het gesond geword. Sy lewe was sterker as die dood. Die dooie jongman van Nain het op sy bevel regop gaan sit. En hierdie vrou met haar bloedvloeiing? Die bron van haar bloedvloeiing het dadelik opgedroog.

Jesus is vandag nog dieselfde Here. Hy is steeds God se “ja” (1 Kor 1:20) wat groter en magtiger is as enige gebrokenheid waarin die vyand ons kan dompel.

Gebed: Dankie dat U ook mý sonde en siekte op U geneem het, Here Jesus. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.