Gedagte vir die dag: Sy las is lig

Teks: Mt. 11: 30: “My juk is sag en my las is lig.”

ʼn Klompie jare terug het ek weens sekere keuses wat ek gemaak het en ʼn sameloop van omstandighede op ʼn plek in my lewe gekom waar dinge vir my te veel geraak het. Die bediening het so veeleisend geraak dat ek gevoel het ek kan nie meer nie. My wiele wou by wyse van spreke net afkom.

Terwyl ek eendag in gebed geworstel het oor hierdie swaar las wat ek dra, was dit asof die Here met my deur hierdie Skrif gepraat het en sê: “Dis nie My las wat jy dra nie, want My las is nie swaar nie.” Toe het hierdie teks meteens vir my ʼn persoonlike werklikheid geword – Sy las is lig! Dit kom uit Sy eie mond!

ʼn Onpas juk en ʼn swaar las loop hand aan hand. ʼn Os waarvan die juk hom seermaak en nie pas nie, kan nie voluit trek nie, want dan kry hy seer.

Ek onthou ʼn geleentheid toe ek as ʼn jong seuntjie saam met my pa geloop het en op ʼn afstand ʼn werker sien wat met ʼn eenskaar ploegie agter ʼn perd loop. Die perd was merkbaar ongemaklik. Kort-kort het die man die perd met die sweep bygekom. Dan het die perd harder probeer trek, net om dadelik weer terug te hou.

My pa, wat op ʼn plaas groot geword het, het dadelik bemerk dat die tuig nie reggestel was nie. Ons het nader geloop en ja, die tuig voor die bors van die perd was heeltemal skeef. Trouens, dit was al bloederig geskuur. ʼn Normale las het vir die perd ondraaglik geraak omdat die tuig nie gepas het nie. Na my vader die tuig reggestel het, het die perd gemaklik, sonder om slae te kry, die las kon trek.

Miskien is jou las swaar omdat jou juk nie pas nie.

Gebed: Help my om die regte besluite te neem oor die laste in my lewe. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger (President van AGS van SA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

Dankie dr Isak vir die altyd-teenwoordige bemoediging in jou dagstukkies en vir die arsenaal van onderskraging wat daar in die Skrif voorkom. God wil juis nie laste op ons plaas nie want Hy het dit reeds gedra. Ons moet Hom sonder hindernisse kan dien !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.