Gedagte vir die dag: “Sy rus”

Teks: Mt. 11: 28: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.”

Selfs vir gelowiges word dinge soms te veel. Soos ʼn Elia gaan sit ons ook soms onder die spreekwoordelike besembos en sien nie meer kans om aan te gaan nie.

Dis nie noodwendig dat dit die gevolg van sonde in ons lewe is nie. Soms is dit net die pas van die lewe wat te veel vir ons geword het. Partykeer is dit die eise wat die lewe en mense (en soms onsself) aan ons stel. Somtyds kry ons swaar omdat ons nie regverdig en billik behandel word nie. Uiteindelik kom ons by die laaste strooi wat die kameel se rug breek.

Ek dink hier veral aan mense (ja, gelowiges ook) wat hulleself om welke rede ookal, in die donker gat van depressie bevind, wat voel hulle maak dit nie, dat die lewe nie meer die moeitewerd is nie. Hoor wat Jesus belowe as jy na Hom toe kom: “Ek sal julle rus gee.”

Daar is geen wesenlike verskil tussen Sy “rus” en “vrede” nie. Dit is die vrug van ʼn kinderlike oorgawe aan Hom wat beloof het om vir ons te sorg. Dit is die ontspannenheid van ʼn ontstelde kindjie wat deur sy ma in haar arms geneem en getroos word – en nou-nou maar rustig slaap. O, hoe het ons nie elkeen in die tye waarin ons lewe nodig om onsself so aan die Here oor te gee nie!

Rus – wat spruit uit ons verlossing van sonde en die oordeel van die wet. Rus, omdat ons nie meer vrees vir die hel nie. Rus, omdat ons van ʼn skuldige gewete verlos is. Rus, omdat niks ons kan skei van Sy grote liefde nie.

Gebed: Dankie vir die rus en die vrede wat U gee. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger (President van AGS Suid Afrika)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.