Gedagte vir die dag: Terug na die Bybel

Argieffoto (Foto: Sixteen Miles Out/ Unsplash)

“En hulle het in Juda onderrig gegee met die wetboek van die Here by hulle, en in al die stede van Juda rondgegaan en onder die volk onderrig gegee” (2 Kronieke 17:9).

Skrifgedeelte
2 Kronieke 17:9

Oordenking
Dit is God se Woord wat vrede bring. Ons lees in Romeine 10:14:

“Hoe sal hulle Hom aanroep as hulle nie in Hom glo nie? Hoe sal hulle in Hom glo as hulle nog nooit van Hom gehoor het nie? Hoe sal hulle van Hom hoor sonder dat daar iemand is wat die boodskap bring?”

Mense het die Here desperaat nodig vandag – meer as ooit tevore.

Mense gaan op die oomblik ten gronde as gevolg van ʼn gebrek aan kennis van die Woord van God. Mense is nie bewus van die krag wat deur die almagtige God vir hulle beskikbaar is nie. Hulle is dalk geleerd, maar hulle het Jesus nodig. Ek onthou hoe ons jare gelede die Saadsaaier geneem het – ʼn groot geel 20-ton-trok met een woord op die kant: JESUS. Dit was vol Bybels, klere en kos en ons het dit tot in die noorde van Sentraal-Afrika geneem. Die mense daar was baie arm. Sommige het skaars klere aangehad, maar interessant genoeg wou hulle nie die klere of die kos hê nie, hulle wou die Bybel hê.

Ek en jy moet ernstig bid, nie net vir Suid-Afrika nie, maar veral dat mense in die Eerste Wêreld sal terugkeer na die Bybel toe.

  • Hierdie oordenking verskyn in Op pad met God deur Angus Buchan. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.