Gedagte vir die dag: Terug na die Bybel

20131122192924_60639_big2 Kron 34:15 – “Ek het die wetboek in die tempel gekry”.

“Jy is mos ‘n wetenskaplike. Sien jy kans vir ‘n eksperiment?” het die Sjinese kerkleier Watchman Nee aan ‘n ateïs-vriend gevra. “Neem hierdie evangelie van Johannes en lees dit in een sitting deur. Maar bid eers en vra: ‘O God, as U lewe, wys my of hierdie boek u Woord is en of Jesus u Seun is.'” Die man het dit gedoen, en daardie selfde week tot geloof gekom. Die doel van die Bybel is om ons na Christus te lei (Gal 3:24). Sonder die Bybel weet ons nie dat ons Hom nodig het nie. As iemand nie weet dat hy siek is nie, sal hy ook nie dokter toe gaan nie. In die tyd van Manasse is die wet nooit meer gelees nie. Niemand het geweet wat daarvan geword het nie. Dit was eers toe hulle jare later in Josia se tyd die stoorkamers begin opruim dat hulle die wet daar ontdek. Toe koning Josia vir die eerste keer na die wet luister, het hy tot ‘n diep sondebesef gekom. Hy het sy klere geskeur as teken van berou (2 Kron 34:19).

Ons het almal Bybels. Ons besef net nie altyd watter kragtige boek daar op die rak staan nie. Die hele Skrif is gegee om lewens te verander (2 Tim 3:14-17), maar as ons dit nie lees nie, sal dit ons niks help nie. Daarom is dit belangrik dat ons elke dag nie net hierdie dagstukkies sal lees nie, maar ook die Bybel self. Dit kan wees dat die Here se boodskap vir jou nie in die teks wat ek gekies het, lê nie, maar in ‘n ander vers. Word dus stil voor die Here voor jy sy Woord lees, en wees gewillig om sy leiding te gehoorsaam.

Gebed: “Here, help my om na u Woord te luister asof vir die eerste keer, en verander my elke dag soos U dit wil hê.”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.