“Tog is ek daarvan oortuig: Die Here se goedheid sal ek sien hier in die land van die lewendes” (Psalm 27:13).
Skrifgedeelte
Psalm 27:13
Oordenking
Ongeag hoeveel goeie dinge die Here in die verlede vir jou gedoen het, Hy sal ongetwyfeld aanhou om goeie dinge in jou, deur jou en vir jou in die hede te doen. Dit is net hoe Hy is. Hy is heilig en liefdevol. Dalk kon jy die heerlike geur van koffie diep in jou longe intrek vanoggend, of jou tiener het jou bestaan in die parkeerterrein by die skool erken. Dit is die goedheid van die Here in die land van die lewendes. As ons eerlik om ons rondkyk, is ons uitermate geseënd. Ons durf nie ontevrede wees nie.
Tevredenheid beteken dat jy vandag, terwyl jy lewe en die krag het, vasklou aan verwondering. Jy is bereid om betrokke te raak by koninkryksake wat groter as jy is. En omdat jy nie weet hoeveel tyd jy oor het nie, lewe jy in vrede met ander mense, sover dit van jou afhang.
So ’n ingesteldheid – dankbaar vir die verlede en tevrede in die hede – stel ons in staat om gereed vir die toekoms te wees. Enigiets anders wat God by ons lewens byvoeg – soos om te weet wat volgende vir jou familie wag, loopbaan, verhouding, studies of jou besigheid wat nog in sy babaskoene is – is ’n bonus.
Ons hoef nie noodwendig te weet wat die volgende stap is nie, ons moet gereed wees om die stap te neem. Jesus is die Goeie Herder. Hy lei ons na groen weivelde en beloofde lande. Jy kan Hom vertrou om jou ook te lei.
- Hierdie oordenking verskyn in die Leef vry deur Dalene Reyburn. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.
Amen
Hiervan kan ek getuig.
Genade onbeskryflik.