Gedagte vir die dag: Toegerus om te dien

Toe sê Moses vir die Here: “Ag, Here, ek kan nie goed praat nie; ek kon nie vroeër nie en ek kan ook nie nou, hier waar U met my praat nie. Ek praat swaar, en my tong sukkel.” Daarna sê die Here vir hom: “Wie het aan die mens ‘n mond gegee? Wie maak stom of doof of siende of blind? Is dit nie Ek, die Here, nie? Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê.” Eksodus 4:10-12

Ons Christene sê dikwels dat ons werklik begeer om die Here te dien – totdat ons tot aksie geroep word. Dan doen ons presies wat Moses gedoen het, ons maak allerhande verskonings. “Ek is nie daarmee gemaklik nie” of “Dit is nie werklik op my gebied nie”of “Maar iemand anders is baie meer gekwalifiseerd as ek!”  Klink dit bekend?

God roep nie diegene wat toegerus is nie, Hy rus diegene wat Hy roep toe vir die taak.

Hy rus ons toe met gawes en talente om Hom te dien, dikwels op ‘n onverwagte manier. God kon op ‘n wonderbaarlike manier vir Moses in staat gestel het om te praat, maar Hy het nie. Die Here het vir Moses Aäron gegee om namens hom te praat.

Hoe rus die Here ons toe om Hom te dien? Ons kan die antwoord op hierdie vraag in 2 Timoteus 3:16-17 lees: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.” Indien jy toegerus wil wees vir enige iets wat die Here van jou vra, moet jy die Bybel bestudeer. God se formule is eenvoudig: bestudeer sy Woord om die vaardighede en instrumente te bekom wat nodig is om Hom te dien. So, as ons voel dat ons nie oor die nodige vaardighede beskik om God te dien nie, is dit omdat ons nie genoeg tyd bestee om sy Woord te bestudeer en toe te pas nie.

Gebed: Here, rus my toe deur u Heilige Gees sodat ek U kan dien. Here Jesus, ek wil in alles wat ek doen u Naam verheerlik. Vergewe my asseblief al die kere wat ek verskonings maak vir my onwilligheid om U te dien. Help my om u Woord te lees en te verstaan.  Amen.

Bron : Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.