Die Here is goed, Hy is ’n toevlug in tyd van nood, Hy sorg vir dié wat by Hom skuil. (Nah 1:7)
Lees Nahum 1:7-15
Die boek Nahum is ’n openbaring wat bedoel is om hoop aan die volk Juda te bring terwyl die Assiriërs oor hulle geheers het. Die boek begin met ’n fokus op God en ’n versekering dat Hy oor sy kinders begaan is. Nog in die eerste hoofstuk skryf die profeet dat God goed is, dat Hy vir sy kinders ’n toevlug in nood is en dat Hy vir dié mense sorg wat by Hom skuil.
Die Bybel se beloftes geld vandag steeds vir God se kinders. Jy mag dus hierdie belofte in Nahum 1:7 vir jouself toe-eien. God is goed vir sy kinders, ook al voel dit op die oomblik nie vir jóú so nie. Jy kan na Hom toe vlug as jy in die noute is, en Hy sal jou help. Die psalmdigter stem saam met hierdie uitspraak van Nahum. “Vir die mens wat in gevaar verkeer, is die Here ’n toevlug, ’n skuilplek in tye van nood. Daarom vertrou almal wat u Naam bely, op U, want U, Here, laat dié wat vra na u wil, nie in die steek nie,” skryf Dawid in Psalm 9:10-11. As jy ooit weer in die noute kom, kan jy met groot vertroue van dié toevlug gebruik maak.
God wil egter nie net vir jou ’n toevlug wees nie, Hy belowe ook om vir jou te sorg. “Hy sorg vir dié wat by Hom skuil,” skryf Nahum. As jy aan Hom behoort, sal Hy vir jou alles gee wat jy nodig het. Vertrou Hom gerus daarvoor.
Hemelse Vader, ek loof U as my toevlug en veilige vesting. Dankie dat ek na U toe kan vlug as ek in die noute kom, en dat ek op u belofte kan steun dat U vir my sal sorg. Amen