Gedagte vir die dag: Trane sal verbygaan

Skrifgedeelte: Luk. 7: 13: “Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: ‘Moenie huil nie!’”

Mans is gewoonlik ongemaklik met ʼn vrou se trane. As ons dan sou sê: “Moenie huil nie”, is dit om ons verleentheid en onvermoë te beëindig. Jesus het egter nie vir hierdie treurende weduwee so gesê omdat Hy niks kon doen nie – inteendeel, Hy kón, en Hy hét kort daarna die rede vir haar trane weggeneem.

In die grondtaal staan hierdie woorde in ʼn bevelsvorm, maar dis wat ons noem “ʼn sagte bevel.” In hierdie opdrag van Hom het die wonderlikste belofte verskuil gelê. Hy kon sê: “Moenie huil nie”, want Hy kon die oorsaak van haar trane wegneem. Hy kon veel meer doen as om net te troos, net te praat.

Ons het hier iets van ʼn voorafskaduwing van daardie dag wanneer die “volmaakte” gekom het en Open. 21:4 in vervulling sal kom: “Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.” Ek glo in so ʼn dag. Ek glo in so ʼn plek. Ek glo in die hemel.

Jesus het net drie keer tydens Sy aardse bediening ʼn dooie opgewek – benewens die dooies wat opgestaan het uit hulle grafte met Sy sterwe (Mt. 27: 52+53). Deur die geskiedenis was daar enkele soortgelyke wonderverhale (benewens talle naby-doodse ervarings). Elke een behalwe Jesus self, het weer gesterwe. Daar word nie uitsonderings gemaak nie.

Die troos is om te weet dat wat Jesus daardie dag gedoen het, eendag ook met jou en my onherroeplik gaan gebeur. Daardie dag sal die dode wat in Hom gesterf het, opstaan as Hy praat en alle trane sal vir ewig afgevee word.

Gebed: Ek verstaan Here, dat trane nét vir hierdie aarde is. Amen.

Outeur: Dr Isak Burger (President van AGS van SA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.