Gedagte vir die dag: Trane

Luk 7:37-38: “Sy bring toe ’n albaste flessie met reukolie en gaan staan agter Jesus by sy voete en huil, sodat haar trane op sy voete begin drup het” .

Wanneer ’n mens kyk na hierdie vrou wat daar by die voete van Jesus kniel terwyl haar trane vrylik loop, wonder jy dalk oor die baie trane. Miskien beskou jy jouself nie as ʼn baie emosionele mens nie. Miskien huil jy selde. Sielkundiges en dokters en teoloë sal waarskynlik almal hulle eie verklaring vir hierdie vrou se baie trane hê. As jy my vra, sou ek sê dat die belewenis van die teenwoordigheid van Jesus die aangrypendste invloed op enige mens se wese het – ook op jou emosies. Om deur Hom aangeraak te word, om Hom aan te raak of in die Gees naby aan Hom te kom, is ʼn ervaring wat geen gelyke op aarde het nie.

Miskien het hierdie vrou in die teenwoordigheid van Sy heiligheid en sondeloosheid so bewus geword van haar sonde, en het dit bygedra tot die stortvloed trane. Dit was die ervaring van talle mense wanneer hulle in die heilige atmosfeer van Sy teenwoordigheid gekom het. Dink maar aan Jesaja.

In Lukas 7:47 verwys Jesus na haar baie sondes wat vergewe is. Is dit dan moeilik om te verstaan dat om diep bewus te wees daarvan dat jou sonde vergewe is, en om onmeetlike dankbaarheid teenoor Hom te ervaar, tot trane van dankbaarheid sal lei? Miskien moet ons opnuut bewus word van hierdie grootste wonderwerk en genade – nét Hy kan ons sonde vergewe.

Gebed: “Maak asseblief my hart sag en ontvanklik vir u nabyheid, Jesus my Here. Amen.”

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.