Gedagte vir die dag: Tussen die reëls

Matt 15:27-28– “Dit is waar, Here,’ sê sy, ‘maar die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval.’ ‘Mevrou,’ sê Jesus vir haar, ‘jou geloof is groot. Jou wens word vervul.’ Van daardie oomblik af was die dogter gesond.”

Jesus wou vir sy dissipels, en vir alle gelowiges deur die eeue heen, wys hoe vasbeslote geloof behoort te wees. Hy het van die begin af hierdie vrou se onwrikbare geloof raakgesien, maar ʼn paar struikelblokke op haar pad na ʼn wonderwerk geplaas. Hy het egter feitlik ongemerk, hoewel met opset, vir haar ʼn gaping gelos. Hy het nie ʼn belofte met hoofletters vir haar uitgespel nie. Hy het dit nie opsigtelik neergeskryf nie. Subtiel, tussen die woorde en begrippe wat Hy gebruik het, het Hy die stukkie geloofsbelofte vir haar weggesteek. Sy het dit wel raakgesien! Sy het dit gekry! Haar geloof, haar desperaatheid, haar deursettingsvermoë, het haar laat deurdruk tot daar.

Sy het nie, soos ek en jy, talle beloftes gehad om aan vas te hou nie. Daar was nie vers op vers en hoofstuk op hoofstuk om te bely en aan te haal nie. Daar was net ʼn krummel, slegs ʼn halwe woord. Dit was ʼn halwe kans, weggesteek tussen die reëls. Sy het dit egter raakgesien, vasgegryp, en daaraan vasgehou!

Jesus word slegs twee keer in die Evangelies deur iemand se geloof beïndruk – en albei kere was dit die geloof van ʼn heiden wat Hom beïndruk het. Die een keer was dit die offisier van Kapernaum wat vir sy siek slaaf by Jesus gepleit het, en nou hierdie vrou.

“Jou wens word vervul.” Die 1953-vertaling sê: “Laat dit vir jou wees soos jy wil hê.” Waar sy eers oënskynlik tevergeefs om ʼn krummel moes pleit, gee Jesus haar nou as ’t ware die sleutels van die bakkery! “Van daardie oomblik af was die dogter gesond” (Matt 15:28).

Gebed: “Nou verstaan ek, Here! Daar is vir my meer as ʼn krummel. Ek het U – die brood van die lewe! Amen.”

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.