Gedagte vir die dag: Tyd om tot siens te sê

Prediker 3:1
Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd:

Wanneer dit tyd word om te groet, kan ons dit doen met die wete dat die Here in beheer is en dat sy tydsberekening volmaak is.

Soms is dit makliker om tot siens te sê as ander kere. Soms groet ons met die wete dat dit net tydelik is. Ouers kan byvoorbeeld hulle kinders vrolik tot siens sê wanneer hulle hulle in die oggende wegsien skool toe, want voor die dag om is, is hulle weer tuis.

Partykeer is dit moeiliker om tot siens te sê, byvoorbeeld wanneer ons kinders of geliefdes wat in ‘n ander land gaan woon, moet groet. Vroeër in hulle geskiedenis het die Iere, waar baie mense op ‘n stadium geëmigreer het, hierna as die vloek van emigrasie verwys.

Om iemand vir wie jy lief is te verloor, is seker die seerste groet van almal. Die skeiding is so finaal. Christene kan hulleself egter troos met die wete dat omdat ons een in Christus is, geen afskeid finaal is nie. Die hartseer is egter ‘n realiteit en slegs die Heilige Gees, die Trooster, kan ons in sulke tye krag gee en vertroos.

Daar word dikwels gesê dat wanneer soldate oorlog toe gaan, is dit diegene wat by die huis bly wat die swaarste kry. Dieselfde kan gesê word wanneer iemand sterf. Die familie en vriende wat agterbly, is hartseer en in rou gedompel.

Wanneer ons sterf, keer ons liggame terug na die aarde, want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer. Ons as Christene glo dat jou siel (die ware jy) gaan om by die Here te wees.

Wanneer my tyd kom om finaal te groet hoop ek mense sal nie na my verwys as “wyle Neville” nie. Want danksy die Here se volmaakte tydsberekening glo ek dat ek dan gearriveer het by die huis van my Vader waarheen Jesus gegaan het om vir my ‘n plek gereed te maak (Johannes 14:2).

Salige gedagte!

Gebed: Hemelse Vader, skenk aan ons die genade om te leef in die wete dat die beste nog voorlê. Dit bid ons in Jesus se Naam. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.