Gedagte vir die dag: Tyd om weer op te staan

helping_handPsalm 37:23-24 – Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun Hom. As so iemand val, bly hy nie lê nie, want die Here help hom op.

“Die wenner is die een wat, al word hy tien keer platgeslaan, elf keer opstaan”, verduidelik ʼn bekende boksafrigter. En al sou ons nie mooi verstaan hoe hy tel nie, kan ons tog die beginsel verstaan en op ons eie lewe toepas.

Die lewe is ʼn stryd, en soms word ons in die proses platgeslaan. Ons moet nou nie moed verloor en bly lê nie; die Here wil ons help om weer op te staan. Dit is baie sleg vir jou selfbeeld as jy jou werk verloor, of as daar ʼn nare teleurstelling in jou lewe is en jou lewensmaat jou verlaat. Dis sleg as jy ʼn geliefde aan die dood moet afgee, of as jou firma waar jy jou spaargeld belê het, bankrot gaan. Dis hartseer as jou ideale in skerwe spat of as die dokter jou vertel dat jy ʼn terminale siekte het. Maar dit is nog nie die einde van die pad nie.

Jy kan weer opstaan en moed skep. Jy is nie alleen op die pad nie. Die Here is langs jou om jou op te help. Hy wil jou ondersteun. Vandag is een van daardie dae dat die Here jou wil ontmoet en versterk, of dit nou in die kerk of by die huis is. Maak vandag tyd om na Hom te luister en om Hom te vertel hoe jy regtig voel. Hy verstaan baie goed, want Hy het jou mos gemaak. Hy ken jou sterk punte en jou swakhede. En as jy vandag nog lewe, dan is Hy nog nie klaar met jou nie. Hy wil jou vorm en versterk tot ʼn sieraad vir sy koninkryk. Staan op, dat die Here met jou kan begin werk!

Gebed: Dankie dat U nie met my moedeloos raak nie, al raak ek self moedeloos, Here. Tel my weer op, en gee my krag vandag.

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.