Gedagte vir die dag: Uit genade gered

Blouberg-Son-Boekevat.jpgJulle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waar voor Hy ons bestem het. (Ef 2:8, 10)

Lees Efesiërs 2:8-10

Ons kan nie ons eie redding bewerkstellig of met ons goeie werke verdien nie. Redding is altyd die gevolg van God se onpeilbare genade. Dit is ’n gawe, ’n present van God, waarvoor ons niks in ruil kan aanbied nie – ons kan net maar ons hande uitsteek en dit in ontvangs neem, heeltemal gratis.

Ons is so gewoond daaraan om volgens ons verdienste beloon te word dat ons eintlik nie mooi weet wat om met God se genade te doen nie. Al wat jy hóéf te doen, is om daarvoor dankie te sê en hierdie dankbaarheid van nou af met jou lewe te beklemtoon. Jy is uit genade gered, maar daar kom tóg nog iets by: uit genade, ja, maar deur geloof. Geloof in Jesus is nodig voordat sy redding in jou lewe kan realiseer. Geloof is dus die hand waarmee jy God se genade vir jou neem. Jy is nie gered ómdat jy goeie werke gedoen het nie, maar sódat jy in die toekoms goeie werke kan doen. God red jou sodat jy vir die res van jou lewe aan Hom toegewy kan leef, sodat jy jou lewe van nou af kan wy aan die goeie dade waar voor Hy jou bestem het. Ontdek God se persoonlike opdrag vir jou en gehoorsaam dit!

Hemelse Vader, ek wil nou die present van my redding vir my neem. Help my om my lewe te wy aan die goeie dinge waarvoor U my gemaak het. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.