Gedagte vir die dag: Uitgeput en oorlaai

Teks: Matteus. 11: 28: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.”

Verlede week het ons gekyk na hierdie onvergelyklike, onbeperkte uitnodiging van Jesus vir almal wat uitgeput en oorlaai is.

Kom ons luister mooi na hierdie uitnodiging. Jesus nooi “almal wat uitgeput en oorlaai is.” Hierdie uitnodiging is onvoorwaardelik – of is dit? Nee, daar is tog ʼn voorwaarde aan verbonde, maar nie een soos ons sou verwag nie.

Jesus sê nie “almal wat ʼn groot geloof het” nie; of “almal wat heilig is” of wat “gereeld kerk toe gaan” of wat “nie sondig nie.” Nee, Sy enigste voorwaarde is dat jy “uitgeput en oorlaai” moet wees. Wat ʼn uitnodiging; wat ʼn genade!

Hoor weer mooi: “uitgeput en oorlaai.” In die grondtaal dui “uitgeput” op vermoeidheid a.g.v. aktiwiteit of werksaamheid – bv. van ʼn arbeider na ʼn harde dag se werk, of ʼn soldaat wat terugkeer na die oorlog of van iemand wat afgemat is na ʼn lang reis.

Die woord “oorlaai” weer, dui nie op aktiwiteit nie, maar op ʼn toestand. Dis byvoorbeeld gebruik van ʼn skip of ʼn donkie of ʼn wa wat oorlaai is.

Wie ken nie hierdie twee omstandighede nie? Ons leef in ʼn wêreld waarin baie van ons alles moet uithaal om te oorleef, om dit te maak. Lang ure by die werk; sekere verwagtinge by die huis en by die kerk. Jy sukkel om by alles te kom, om by te bly. En uiteindelik voel jy net moeg, uitgeput!

Dan is daar ʼn ander soort moegheid – nie ʼn moegheid a.g.v. fisiese aktiwiteit nie, maar weens ongevraagde dinge wat jou pad langs gekom het, wat net met jou gebeur het, waarvoor jy nie gevra het nie: Probleme by die werk waarvoor jy nie regtig verantwoordelik is nie; ʼn krisis in jou huwelik. En dan daardie swaar waaraan so baie ouers dra – seerkry en smart wat jou kind oor jou bring.

Is jy uitgeput en oorlaai? Sy uitnodiging staan nog steeds!

Gebed: Ek besef nou duidelik, U sê ook vir my: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” Amen.

Outeur:  Dr. Isak Burger (President van AGS,  Suid Afrika)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.