Gedagte vir die dag: Veilig by die Here

20131122192924_60639_bigPs 57:2 – Onder u vleuels sal ek skuil tot die bedreiging verby is.

“Ek was na die veldbrand baie mismoedig. Al ons weiding was daarmee heen. Ek het in die swartgebrande veld gaan stap, en op een plek ‘n snaakse hopie gesien. Toe ek gaan kyk, sien ek dis ‘n hoenderhen wat doodgebrand is. Ek het gewonder hoekom sy dan nie gevlug het nie, en met my voet aan haar geskop. Toe dop daar ‘n hele spul kuikentjies uit. Sy het haar lewe gegee sodat haar kuikens die brand kon oorleef,” vertel ‘n boer.

In Dawid se lied sien hy homself ook as ‘n kuikentjie wat onder die Here se vlerke skuil. Solank hy daar is, is hy veilig. In werklikheid was hy in ‘n grot, vasgekeer deur Saul se oormag. Daar was menslik gesproke geen uitkomkans nie. Maar hy het sy geloof in hierdie lied uitgedruk. Nie lank daarna nie, gebruik Saul die einste grot as toilet, en gee aan Dawid die kans om sy lewe te spaar, al kon hy hom maklik doodgemaak het (1 Sam 24:4).
In ‘n tyd soos hierdie is dit ook vir ons nodig om te weet waar ons die veiligste sal wees. Nie deur onsself te bewapen en met tralies en kwaai honde te omring nie, maar deur op die Here te vertrou. Die grootste gevaar kom nie van buite nie, maar uit ons eie hart. Vandag kry ons kans om die Here beter te leer ken. Gaan kerk toe met die verwagting dat die Here jou lewe gaan verander. Ons stryd is nie teen mense nie, maar teen die bose geeste in die lug (Ef 6:12). Daarom gee die Here vir ons die regte soort wapenrusting.

Sorg dat jy dit vandag aantrek en gebruik!

Gebed: “Here, net by U is ek veilig. Bewaar my van elke versoeking en bedreiging wat my omring.”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.