Gedagte vir die dag: Verdwaalde godsdiens

praying-in-success2 Kon 16:4 – Hy het diereoffers en wierookoffers gebring op die hoogtes en op die rante en onder elke groen boom.

“Hierdie mense is baie godsdienstig, maar hulle ken nie die Here nie,” het ons tydens ‘n besoek aan Indië vir mekaar gesê. Orals sien ons groot en klein altare. Harde musiek blêr uit elke tempel. Mense loop rond met verf aan hulle gesigte om te wys hoe toegewyd hulle is, en was hulleself in die heilige riviere om van hulle sondes bevry te word. Daar is 330 miljoen gode om tevrede te stel. Dit vra baie offers, en baie swaarkry. Hulle druk selfs hake en ander skerp voorwerpe in hulle lyf of loop kaalvoet oor rooiwarm kole. Miljoene is seker dit is die enigste pad, maar hulle het nog nooit van ʼn liefdevolle God en sy genade gehoor nie. Dit kan nie van koning Agas gesê word dat hy nie godsdienstig was nie. Hy was godsdienstig, maar sy godsdiens was verkeerd. Hy het geestelik verdwaal omdat hy nie by die Skrif gehou het nie. Hy het by mense probeer leer hoe om godsdienstig te wees. By Israel het hy een soort afgodsdiens geleer, en by die ander volke hoe om op die hoogtes en onder elke groen boom altare te bou. Ons lees selfs dat hy by geleentheid een van sy seuns as brandoffer gebring het (2 Kon 16:3). Dalk het hy die storie van Abraham en Isak nie volledig gehoor nie. Hy was baie godsdienstig, maar hy het nie gedoen wat reg was in die oë van die Here nie (v 2). Ons moet leer om Christene te wees en nie net godsdienstig nie. Vormgodsdiens help niks nie. Wedergeboorte is wat ons nodig het, en oorgawe aan die Heilige Gees, sodat Hy ons kan bekragtig om God se wil te doen.

Gebed: “Here, bewaar my tog van bloot godsdienstig wees.”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.