Gedagte vir die dag: Verheerlik God deur vrug te dra

wingerd9.jpgEk is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrug te, want sonder My kan julle niks doen nie. My Vader word juis daardeur ver heerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is. (Joh 15:5, 8)

Jesus sê self dat sy Vader verheerlik word wanneer sy kinders baie vrugte vir Hom dra. Ons kan egter net vrugte dra wanneer ons in Jesus bly en Hy in ons. ’n Loot wat los van die wingerdstok is, kan tog nie druiwe dra nie. Dit beteken dat ons in ’n intieme verhouding met Jesus behoort te bly as ons vir Hom vrug wil dra. Indien jy in Hom bly, beloof Jesus dat jy báie vrugte sal dra. En die doel van hierdie vrugte is juis om God te verheerlik. Daar is ’n waarskuwing in Jesus se beeld van die druiweboer verpak. Dit is net die lote wat vrug dra wat die Vader aan die wingerdstok toelaat. Die ander sny Hy weg en hulle word verbrand.

In Kolossense 1:10 verduidelik Paulus wat hierdie vrug te beteken: “sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke.” Die vrugte wat God van jou verlang, is dat jy aan God gehoorsaam sal wees en dié dinge sal doen waarvoor Hy jou gemaak het. “God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het,” skryf Paulus aan die gemeente in Efese (2:10). Indien jy dit doen, verheerlik jy God!

Hemelse Vader, ek wil U graag verheerlik deur die goeie dade vir U te doen waarvoor U my bestem het. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.