Gedagte vir die dag: Versorg jou akker!

Matteus 6:34 – Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis.

Geluk word maklik op die langebaan geskuif. Ons glo ons moet eers iets bereik of regkry voordat ons gelukkig mag wees. En voor ons ons kom kry is ons lewe half geleef en half verby. Volg hierdie wenke om die beste uit die lewe te kry terwyl jy nog kan.

Dien die regte voedingstowwe toe: Medikasie is daar met ʼn doel. As vitamines jou lewenskwaliteit verbeter, drink dit. As jy siek is, gaan dokter toe, en as medikasie vir jou voorgeskryf word, neem dit. En as jy aan ʼn kroniese siekte ly, maak seker dat jy jou medikasie nougeset neem. Dit geld vir elke kwaal van depressie tot asma.

Verfraai jou innerlike: Wanneer jy meer tyd aan die uiterlike spandeer as wat nodig is, mors jy tyd. Die klere, soos kos, dien die liggaam, nie andersom nie.

Ruim jou geestelike tuin op: Jou liggaam is jou tuiste. Herinneringe en ervarings word in elke sel van jou liggaam gebêre. As jy toelaat dat al die slegte ervarings soos ʼn onkruid in jou binneste groei, gaan jou blyplek agteruit. Kry jou tuiste in orde en geniet die lewensruimte wat jy vir jouself skep.

Berei jou voor vir die ewige lente: As al jou begeertes net gerig is op dinge wat jy vir jouself wil hê en jy geen belang het by ander lede van die skepping nie, is jy op die verkeerde pad.Draai om en begin oor.

Gee jouself ʼn blaaskans: Die lewe herinner ons gereeld aan ons sterflikheid en gedagtig daaraan moet ons ons tyd met omsigtigheid gebruik. Daarom is daar iets soos Sondag. Dit is die tyd om jou innerlike in die aangesig van jou Skepper te herskep vir ʼn nuwe week. En as Sondag nie moontlik is nie, kies ʼn ander dag om te besin.

Gebed: Here, elkeen van ons het ʼn maat van tyd uit u hand ontvang. Help my om my lewe in die lig van die ewigheid op te weeg. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.