Gedagte vir die dag: Vertel van God – almal moet hoor

Psalm 78:3,4,6 – Dis ʼn verhaal wat ons by ons pa gehoor het en wat al ons kinders goed moet ken. Daarom vertel ons dit vir die jong geslag, sodat hulle kan weet van die groot dinge wat die Here gedoen het. Hulle moet weet hoe groot en sterk Hy is en watter buitengewone groot dinge Hy gedoen het. Almal moet die kans kry om te hoor dat hulle in God moet glo. Ook ons kinders en kleinkinders moet daarvan kennis neem.

ʼn Mens kry verskillende soorte mense met verskillende persoonlikhede. Dink net hoe vervelig sou die lewe gewees het as almal dieselfde was. ʼn Mens kry mense wat baie praat en mense wat min praat. Dalk moet ʼn mens nog ʼn kategorie hier byvoeg, naamlik mense wat aanhoudend praat. Soms voel ek, ek wil vir sulke mense sê hulle moet onthou om asem te skep tussen hul sinne. Wanneer dit kom by Jesus, die kruis en die leë graf, mag niemand van ons egter stilbly nie. Daaroor moet elke kind van die Here gereeld praat. Dis so groot en dis so spesiaal dat ʼn mens doodgewoon nie kan stilbly daaroor nie. Dit maak dat ek en jy met nuwe hoop kan leef. Dit maak dat ek en jy met ʼn ewigheidsperspektief kan leef. Jesus het aarde toe gekom sodat ek en jy nuwe mense kan wees. Jesus het gesterf en uit die dood opgestaan sodat en jy oorwinnaars kan wees en lewe in oorvloed kan hê. Hoe gaan ander mense dit ooit weet as ek en jy nie daaroor praat nie? God se plan is dat ek en jy ander daarvan moet vertel. Wanneer hulle hoor, kan hulle lewens ook verander.

Om te getuig is nie ʼn stokperdjie of ʼn een-dag-ʼn-week-aktiwiteit nie. Dit is ʼn leefstyl. – RE Coleman

Gebed: Here, u genade aan die kruis is groot en het my lewe diep en radikaal aangeraak. Gee vir my die krag om nie een geleentheid wat ek daaroor kan praat, oor te slaan nie.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.