Gedagte vir die dag: Vertel van God se liefde

ligPsalm 118:1-4 – Sê vir die Here baie dankie, want Hy is goed; ja, sy liefde sal nooit ophou nie. Al die Here se kinders moet sê: “ Sy liefde sal nooit ophou nie.” Ja, almal wat Hom dien en aanbid, moet dit sê.

Genade is een van die wonderlikste “konsepte” ooit. Ek sit konsep doelbewus in aanhalingstekens omdat genade soveel meer is as ʼn konsep. Genade is eintlik ʼn Persoon – dit is Jesus Christus. Genade het die wêreld verander en doen dit steeds elke dag. Genade maak dat Christenskap nie eintlik ʼn godsdiens is nie, maar ʼn lewende verhouding met God, jou Vader. Elke godsdiens in die wêreld het ʼn god pf gode wat deur die volgelinge behaag en plesier moet word. Die hele tyd word jy “dopgehou” en jy moet presteer om jou god tevrede te stel. Die God van die Christendom buig af na ons toe. Hy kom plant ʼn kruis hier op aarde om sy verlore kinders terug te wen en hulle nog ʼn kans te gee. Hy gee sy lewe sodat ons kan lewe. Dit is genade! Hierdie storie van genade en die Persoon van genade is onbekend aan duisende mense in ons land en miljoene oor die wêreld heen. Dit is my en jou verantwoordelikheid om hierdie Persoon en hierdie storie die wêreld in te neem en te sorg dat die hele wêreld daarvan kennis neem en daarvan hoor. Jesus se genade moet oorvertel word. Ons mag nie stilbly daaroor nie.

Een mens se gloeiende, persoonlike getuienis van ʼn ontmoeting met God is net so goed soos ʼn biblioteek vol abstrakte argumente. – Vance Havner

Gebed: Here, dankie vir U genade. Jesus, dankie dat U genade is. Maak my gehoorsaam en gee my die moed om hierdie verhaal van genade aan baie mense oor te vertel.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.