Gedagte vir die dag: Vertroue

jumping-friendsPs 54:6 – Maar vir my help God altyd, die Here hou my lewe in stand.

“Spring maar, ek sal jou vang!” het die Joodse pa vir sy seuntjie gesê”. Toe die kind spring, staan hy opsy sodat die kind hom stukkend val. Sy pa se kommentaar was: “Les nommer een: Moet niemand vertrou nie, nie eens jou eie pa nie.” Baie van ons het seker al sulke ervarings gehad, toe mense vir wie ons vertrou het, ons ingeloop het of teleurgestel het. Dawid het hierdie lied geskryf toe hy in die woestyn vir Saul weggekruip het. Hy het gereken dat hy darem daar veilig sou wees, maar die Siffiete het telkens aan Saul gaan rapporteer waar hy wegkruip (1 Sam 23:18; 26:1). Dit het vir Dawid so ontstel dat hy ‘n lied daaroor gekomponeer het wat tot vandag toe nog gesing word. Hy sing nie net van die onbetroubaarheid van mense nie, maar ook van die betroubaarheid van God. God ken ons deur en deur, en weet selfs hoeveel hare ons het (Luk 12:7). Daarom hoef ons nie bekommerd te wees oor die toekoms nie. Die God wat selfs vir die mossies sorg sal ook vir ons sorg want Jesus sê ons is baie meer werd as die mossies. Hy belowe dat alles vir ons ten goede sal meewerk (Rom 8:28). Ons kan dus dieselfde vertroue uitspreek wat Dawid in hierdie psalm doen. En hoe leer ons hierdie soort vertroue? Eenvoudig deur die Here beter te leer ken, deur sy Woord, en ook waar sy Woord verkondig word. Moenie vandag jou afspraak met Hom misloop nie!

Gebed: “Here, U ken my vrese. Openbaar u almag vandag aan my, sodat ek nie meer nodig sal hê om bang te wees nie.”

Bron: Uit die Beek- Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.