Gedagte vir die dag: Verwerping

Mark 5:25: “Daar was ook ’n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het”.

Toe Jesus op pad was na Jaïrus se sterwende dogtertjie, verskyn ’n ander vrou op die toneel. Sy het Jesus baie nodig gehad het. Sy het al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely. In ons tyd is so ’n toestand ondenkbaar, aangesien ’n eenvoudige mediese behandeling waarskynlik haar probleem sou kon oplos. In daardie dae was dit anders. Die Joodse Talmoed het omtrent elf verskillende behandelings aanbeveel. Ons sou vandag sommige van hierdie behandelings as belaglik en selfs as vernederend beskou.

Dink net aan hierdie vrou se fisieke toestand. Twaalf jaar is ’n lang tyd. Onophoudelik, dag en nag, het haar lewenskrag uit haar weggevloei. Sy was dalk aan die einde van haar kragte. Die fisieke effek van haar siekte was egter nie haar grootste probleem nie. Hierdie siekte het haar ook godsdienstig onrein gemaak. Sy kon aan geen seremonie deelneem nie. Volgens Levitikus 15:19-26 was hierdie vrou onrein – omtrent in dieselfde mate as ’n melaatse. Almal wat aan haar sou raak, en almal aan wie sy sou raak, sou sewe dae lank onrein wees. Meer nog, selfs al sou sy net aan ’n stoel of ’n bed raak, sou ook daardie voorwerpe onrein wees. Die gevolg was dat hierdie vrou totaal van die gemeenskap geïsoleer en selfs verwerp is. Sy het selfs gevaar geloop om gestenig te word as sy tussen ander mense sou kom.

Dit is heel moontlik dat ook haar huwelik in die slag gebly het weens die fisiese en sosiale implikasies van haar siekte. Verwerping – waarskynlik die seerste seer wat daar is.

Wanneer ’n mens dink aan verwerping, is hierdie vrou een van dié wat hartverskeurend van die gevolge daarvan sou kon vertel.

Gebed: Here, as daar vir hierdie vrou hoop was, is daar vir seker ook vir my hoop. Dankie! Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.