Gedagte vir die dag: Vind jou rus in die Here

Psalm 62:2 – Ek is rustig wanneer ek by die Here is. Dit is Hy wat my elke keer red as ek in die moeilikheid beland.

Ek ken nie een mens wat nie besig is nie en op groot skaal skarrel en rondhol nie. Almal is besig en bedrywig. Almal het min tyd. Ek is al moeg daarvoor om te hoor iemand is te “besig” as ek vra hoe dit gaan. Besig-wees is ʼn harde realiteit en werklikheid in vandag se lewe. Daardie besig-wees maak ʼn mens ook moeg en maak dat jy werklik diep rus nodig het. Mense vandag is diep uitgeput en baie lyk omtrent soos wandelende lyke. Wanneer is ʼn mens dan rustig? Dit is te vind by die Here alleen. Dit is so nodig dat jy die goeie gewoonte sal aanleer om elke dag tyd in te ruim om net stil by die Here te wees. Dit is die een plek waar jy net hoef te wees en nie hoef voor te gee en te presteer nie. Jy sien, prestasie, verdienste en voorgee maak ʼn mens moeg. By die Here kan jy net stilsit en rou eerlik wees. Hy ken in elk geval jou hart – die mooi en die lelike daarvan. Jy kan Hom in alles ken en Hom presies vertel wat in jou lewe aangaan en wat jou behoeftes is. Dis waar jy rus kry – by God alleen.

Christus alleen kan blywend vrede bring: vrede met God, vrede tussen mense en nasies, en vrede in ons hart. Billy Graham

Gebed: Here, dankie dat U my rustig maak. Dankie dat ek by U en in U kan rus. U is my hoop en vrede, Here.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ellen van der Merwe ·

In Die Boodskap sê Ps 62:2: Ek is rustig wanneer ek by die Here is. Dis Hy wat my lewe heelmaak. By Hom alleen is ek veilig.
Dis so wonderlik, want buiten vir die besige lewe en broodnodige rus, het ons heling en veiligheid so nodig! By Hom is dit alles!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.