Gedagte vir die dag: Volkome versadig

Teks: “Al die mense het geëet en genoeg gekry, en hulle het nog twaalf mandjies vol bymekaargemaak van die stukke brood wat oorgebly het” (Matt 14:20).

Al die mense het geëet en genoeg gekry.” Wonderlik! God laat sy kinders nie ʼn hongerdieet volg nie. Wanneer Hy mense voed, versadig Hy hulle ook. Hy gee ons nie net iets om te eet nie; Hy gee vir ons genoeg.

Ons almal weet daar is iets soos ʼn skeefgetrekte “voorspoedsteologie”. Ons moet egter nie in reaksie daarteen dink die Here is nie die God van oorvloed nie. Teenoor die duiwel, die dief, wat net kom om te steel en te slag en te verwoes, sê Jesus in Johannes 10:10: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” In Psalm 81:11 sê die Here: “Wat julle nodig het, sal Ek in oorvloed gee.” En in Psalm 103:5 vertel Dawid van sy God “wat my die goeie in oorvloed laat geniet”.

Ons dink so dikwels dat dit óns harde werk is wat vir ons vervulling en versadiging sal bring. Luister egter wat die Here in Jesaja 55:1-2 sê: “Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk. Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie, waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is.”

Is jy versadig, vervuld en vergenoeg? Of jaag jy steeds agter dít aan wat nie kan versadig nie? Het jy al by daardie plek gekom waar jy hierdie lied van harte saam kan sing: “It is well with my soul”?

Gebed: “Here, ek bely dat daar slegs by U volkome versadiging is. Amen.”

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.