Gedagte vir die dag: Vóór jy in die bokskryt klim

Argieffoto (Foto: Tegan Mierle/ Unsplash)

“Wat Hy wil hê, is dat mense Hom moet dien en aanbid. Dit is dié mense wat weet dat die Here hulle baie liefhet” (Psalm 147:11).

Skrifgedeelte
Psalm 147:11

Oordenking
Wanneer ons nie tyd het vir ons stiltetyd nie, is dit dikwels die tyd wat ons dit die nodigste het. Want, soos Pierre André gesê het: Wanneer ek en jy ons vroegoggend stilte-oefenprogram by God afskeep, wys dit later wanneer ons in die bokskryt van die lewe staan.

En is die lewe nie juis nou in baie opsigte ʼn bokskryt nie? Ons almal se snare is dun gespan, ons is regtig nou moeg van gaaf wees. Liewe leser, onthou jy hoe lekker dit was toe jy deur die jaar God se teenwoordigheid by jou kon voel? Doen in hierdie maand weer moeite om jóú tyd by Hom te koester: Dié tyd waarin jy sy teenwoordigheid in jou lewe erken, Hom loof en dank vir al die goedheid in jou lewe en Hom kans gee om jou ware menswees aan jou te wys. Erken reeds vroeg in die môre sy hier-wees-by-jou en dink op die ou end aan al die verskillende maniere waarop Hy jou geseën het. Ja, wees heeltyd by Hom.

  • Hierdie oordenking verskyn in Net soos jy is deur Milanie Vosloo. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat U by my is ongeag die uitputting van die lewe… Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.