Gedagte vir die dag: Voorwaarts Christenstryders

h07-cross_sunset-102 Timoteus 2: 3-4: Dra jou deel van die ontberings soos ‘n goeie soldaat van Christus Jesus. ‘n Soldaat in aktiewe diens wat sy bevelvoerder tevrede wil stel, bemoei hom nie met die dinge van die gewone lewe nie.

‘Voorwaarts Christenstryders’, soos baie van ons hierdie lied ken, is in 1865 geskryf met geen bedoeling om dit ooit te publiseer nie. Die skrywer van die lied, eerwaarde Sabine Baring-Gould was op daardie stadium ‘n hulp-prediker in ‘n gemeente in Yorkshire in die noorde van Engeland en sy weergawe van hoekom hy die lied geskryf het, bestaan steeds. Hier volg ‘n vertaling van sy woorde:

“Dit is ‘n baie eenvoudige lied. Die Maandag na Pinkstersondag is ‘n tradisioneel ‘n groot dag vir skoolfeeste in Yorkshire. Een so ‘n Maandag is daar gereël dat ons skool kragte moet saamsnoer met die van ‘n skool van ‘n nabygeleë dorpie. Ek wou hê dat die kinders moet sing terwyl hulle van die een dorpie na die ander marsjeer, maar ek kon nie aan iets geskik dink nie. So ek het maar laatnag probeer om self iets te skryf. ‘Voorwaarts Christenstryders’ was die resultaat. Dit is haastig geskryf en ek is bevrees dit is nie ‘n meesterstuk nie. Niemand kon meer verras wees met die gewildheid van die lied as ekself nie.”

Die lied het ‘n militaristiese tema en word op marsmusiek gesing, waarvoor dit baie gekritiseer is. Sommige kerke het dit heeltemal uit hulle liedboeke verwyder.

Maar voer ons nie ‘n oorlog nie? Die woorde van die lied fokus op hierdie oorlog – ons vyand is nie ons medemens nie, dit is Satan en ons Koning en Opperbevelvoerder is die ewige, almagtige God wie se koninkryk vir altyd sal bly.

In Afrikaans het ons nou die pragtige woorde van hierdie bekende lied:
Soek in God jou sterkte; kry by Hom jou krag;
met sy wapenrusting klee Hy ons met mag.
Nie teen medemense is ons worstelstryd
maar ons veg teen Satan en sy sluwe listigheid.
Hy stuur bose magte in die wêreld in,
maar met God se wapens kan ons hul oorwin

In die Bybel leer ons dat Satan oorlog voer teen God en diegene wat Hom volg. Dit is miskien nie ‘n fisiese oorlog nie, maar dit is nogtans ‘n werklikheid. Alle Christene veg op hierdie geestelike slagveld. In sy brief aan Timoteus gebruik Paulus militêre taal om hierdie stryd te beklemtoon. Wanneer jy aangesluit het as ‘n soldaat vir Christus, moet jy bereid wees om jou wil volkome aan Hom oor te gee – ons moet ons opdragte aanvaar en gereed maak vir aktiewe diens. In Efesiërs 6 skryf Paulus aan die gemeente: “trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee.” Want ons stryd is teen elke bose gees.

Baie is bereid om die wapenrusting aan te trek en vir God te veg, maar nie almal is bereid om dit hulle lewenstaak te maak nie. Is jy bereid om dit te doen? Is jy gewillig om die wapenrusting aan te trek en vir Jesus Christus te veg? Voorwaarts Christenstryder!

Gebed: Hemelse Vader, vandag herinner U my daaraan dat ek ‘n soldaat van Christus Jesus is en dat die geveg waarby ek betrokke is baie groter en belangriker is as enige oorlog wat hier op aarde gevoer word. Beskerm my vandag teen die vyand se leuens wat probeer verhinder dat ek effektief vir U kan werk. Dankie vir die oorwinning. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.