Gedagte vir die dag: Vra eers

bybel2 Kron 18:4 – “Maar,” het Josafat verder vir die koning van Israel gesê, “vind nou eers uit wat self die Here”.

“Ai, ek wens die Here wil ‘n e-pos stuur om my te sê of ek moet ry of bly,” sug ‘n kollega wat met ‘n beroep aan die stoei was. Die moeilikste deel van so ʼn besluit is om eers werklik gewillig te word om enige van die twee antwoorde te aanvaar. Dit is nie altyd nodig om die slegste van twee moontlikhede te aanvaar nie. Maar dan moet jy die sekerheid hê dis waar die Here jou wil hê.

Koning Josafat het sy land teen Israel beveilig (2 Kron 17:2). Hy kon dus op gelyke voet met Agab onderhandel. Agab wou hom oorhaal om Ramot in Gilead saam met hom te gaan aanval, en hy reël toe 400 profete wat almal sou saamstem dat dit ‘n goeie idee is. Maar Josafat was nog nie gerus nie. Hy wou dubbeld seker maak. Is daar nie dalk nog ‘n profeet nie? Ja, daar was een, maar hy was ‘n dwarstrekker. Hy het altyd slegte nuus vir die koning gegee. As gevolg van Josafat se versoek kry hy egter ook ‘n kans om die boodskap van die Here oor te dra. Mense is geneig om te hou van predikers wat sê wat hulle wil hoor. Hulle vergeet dat die Woord van die Here gegee is om lewens te verander (2 Tim 3:12-17). Jy kan iemand net verander as jou boodskap anders is as waaraan die mens gewoond is. Die tradisie en gewoontes is nie altyd reg nie. Ons moet ook soos Josafat vra na wat die Here sê. En dit kry ons vandag in Sy Woord. As ‘n profetiese woord nie met die Bybel saamstem nie, moet ons ‘n groot vraagteken daaragter sit.

Gebed: “Here, ek wil vandag eers stil word om te hoor wat U vir my sê voor ek hierdie dag ingaan. Praat met my.”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.