Gedagte vir die dag: Vreugde is om God in beheer van ons lewens te plaas.

Spreuke 16:1 – ʼn Mens kan sy voornemens hê, maar die laaste woord daaroor kom van die Here af.

Toe Napoleon Bonaparte beplan om Rusland binne te val wou een van sy raadgewers hom van plan laat verander. Napoleon het geweier om te luister. Sy raadgewer was moedeloos en het gewonder hoe hy hom van plan kon laat verander. Hy sê toe vir hom: “Onthou die mens wik, maar God beskik!” Napoleon het vol bravade geantwoord – “Nee, Napoleon wik en Napoleon beskik! “ ʼn Christen wat dit aangehoor het, het gesê dat hierdie woorde die draaipunt kan wees in Napoleon se suksesvolle loopbaan. Ons weet vandag dat dit inderdaad so was. Hierdie inval in Rusland was die begin van Napoleon se ondergang!

Die mens beplan, maar dit is God wat die finale sê het. Wee die mens wat dit vergeet!

Baie mense sal kan getuig: Net sodra hulle gedink het dat hulle nou in volle beheer van hul lewens is, dan gebeur daar iets wat die mat onder hulle uitruk. Dit is dan wat ons besef: ons is nie in beheer van ons lewens nie, maar God is. Ja dit is so dat ons eie sonde kan veroorsaak dat ons lewens in verkeerde rigting gaan, maar as ons die Here dien en Hom volg moet ons bely dat Hy in beheer is. Dit beteken nie ons moet nie beplan nie, In die Bybel is daar baie voorbeelde van manne en vroue van God wat hulle reise en dade beplan het byvoorbeeld Abraham of Paulus. Die spreukwoord wil dit mos “He who fails to plan, plan to fail”, maar ons moet dit met ʼn nederige lewensingesteldheid teenoor God doen. Ons moet heeltyd besef dat die laaste woord van die Here af kom. Dit is waarom mense altyd aan die einde van hulle voorneme of beplanning die woorde “as dit die wil van die Here is “ toevoeg. Sommige gebruik die afkorting DV, wat beteken: Deo Volente (as die Here wil).

As kinders van die Here moet ons altyd daarvan bewus wees dat alles wat jy aanpak jy in afhanklikheid van die Here doen. Ons almal weet dat ons nie al die hoekoms van die lewe nou beantwoord gaan kry nie, maar steeds bely ons dat God die koning van die heelal is.

Gebed: Dankie Here dat U in beheer van my lewe is. Ek vertrou dat U dinge vir my die beste sal laat uitwerk! Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.