Gedagte vir die dag: Vreugde is om te besef jy het genoeg

boekevat-blydskap-spring-van-vreugde

Foto: blisshabits.com

Psalm 23:1 – Die Here is my herder, niks sal my ontbreek nie.

Een Sondag by die Sondagskool moet die kleuters Psalm 23 leer en die eerste vers uit hulle koppe ken. Toe sê die een dogtertjie: Die Here is my herder. Ek het alles wat ek wil hê! Hierdie dogtertjie het die Psalm baie goed verstaan. Die Psalmdigter het die wonderlike belydenis gemaak dat “Niks sal my ontbreek nie (1933/53-vertaling). “ek kom niks kort nie (1983-vertaling). Hierdie dogtertjie het verstaan wat die Psalm beteken. As ek die Here het, het ek niks meer nodig nie.

Ons het rede om te aanvaar dat die Psalm geskryf is in uiterste nood! Dat die digter die woorde as belydenis gesê het om te bevestig dat die Here die enigste troos in sy lewe is. Die digter het dit as belydenis geskryf: ”As ek die Here het dan het ek genoeg –al word al die ander dinge van my weggeneem!” Al gaan dit sleg met my, ek kom niks kort nie. Al het ʼn mens siekte, pyn en ongerief. Al is jou omstandighede wat, leer die Psalm vir ons as gelowiges dat ons tevrede moet wees want ons kom niks kort nie. Al het ons selfs minder wêreldse dinge. As ons die Here Jesus het, wat het ons meer in die lewe nodig? Soms het gelowiges ʼn gesindheid van ontevredenheid en ondankbaarheid, want hulle kla oor alles en wil altyd hê wat ander het. In Psalm 23 het ons ʼn gelowige se belydenis dat hy tevrede is waarmee hy toebedeel is. Al wat vir die digter belangrik is, is die teenwoordigheid van die Here, daarom is hy nie bang nie.

Dit is dalk vir jou nodig om vandag ʼn belydenis te maak in lyn met Psalm 23 dat jy tevrede is met wat jy het en wie jy is omdat jy in die Here is. As ons Jesus het, kom ons niks kort nie, dan ly ons geen gebrek nie, dan ontbreek ons niks! Jy het genoeg.

Sal jy vandag so belydenis kan maak? Dit maak nie saak wat jou omstandighede is nie, as jy die Here het, het jy genoeg. Dit is wat ware vreugde is.

Gebed: Here maak my ʼn tevrede mens omdat U in my bly! Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.