Gedagte vir die dag: Vreugde word deur jou gedagtes bevorder

Filippense 4:8 – “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle, julle gedagtes rig.”

Die geheim van ʼn lewe vol vreugde is onder andere in hierdie vers opgesluit. Saam met die voorafgaande verse in Filippense word dit duidelik gestel dat jou denke jou optrede bepaal. Paulus praat op verskeie ander plekke ook daarvan. Efesiërs 4:17 wil hy dat ons gees en gedagtes nuut moet word. In Romeine 2:2 “laat God julle verander deur julle denke te vernuwe”. Daar was by Paulus geen twyfel dat jou gedagtes ʼn bepalende rol in jou lewe speel nie.

Dit wat jy dink, gaan jy leef. Jy kan dit per geleentheid onderdruk, maar eventueel gaan dit in jou lewenstyl na vore tree. Dit is moeilik of onmoontlik om jou denke weg te steek. Ons besef dit nie altyd nie, maar ander mense kan in ʼn groot mate bepaal wat ons dink, as hulle na ons optrede kyk. As jy niks goeds oor ander mense te sê het nie en jy is heeltyd negatief, is die oorsprong daarvan by negatiewe denke. As daar by jou mond onrein woorde uitkom, is dit omdat jy aan onrein dinge dink. As jy negatief oor jouself praat en optree, is dit omdat jy min van jouself dink. As jy moedswillig, of lui of onaangenaam is, is dit omdat jy toegelaat het dat jou gedagtes negatief word. Soms kom ons nie eers agter dat ons so negatief is nie, omdat jy vir jare toegelaat het dat negatiewe gedagtes stadig maar seker beheer van jou lewe oor neem.

In vandag se vers word sewe waardes opgenoem waarmee jy jou gedagtes moet vul. Elke gedagte wat nie aan een van hierdie waardes voldoen nie, moet jy verwyder, want dit is nie van die Here nie. Hier word ʼn positiewe rigting vir ʼn goeie lewe aangedui. “Daarop moet julle, jul gedagtes rig” Dit beteken jy moet dit bedink, jy moet oefen om jou gedagtes daarop te rig, want dit gaan goeie koers aan jou lewe gee. Dit is ʼn daaglikse proses wat jy gereeld vir jouself moet leer.

Gebed: Here ek wil my gedagtes positief rig . Help my vandag daarmee. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.