Gedagte vir die dag: Vrygewigheid

kneel-before-the-cross2 Kon 3:7- “Ek en jy is een. My manskappe is jou manskappe, en my perde is jou perde” .

“‘n Fout is net ‘n fout as jy niks daaruit geleer het nie.” Maar dit lyk regtig asof Josafat vergeet het wat die vorige keer gebeur het toe hy die woorde van ons teksvers gebruik het (1 Kon 22:4). Daardie keer het die avontuur saam met Agab amper sy lewe gekos (1 Kon 22:32). Nou gebruik hy dieselfde woorde teenoor Agab se seun Joram. Dit klink amper asof dit Josafat se standaard antwoord was as iemand hom vir ‘n geveg nooi. Hy wou almal se vriend wees, selfs van die koninkryk wat van syne afgeskeur was. En dit het hom amper baie duur te staan gekom. Dit is nooit ‘n goeie plan om met ‘n ongelowige ‘n span te vorm nie.
Dit beteken natuurlik nie dat ons ons uit die wêreld moet onttrek nie. Ons werk elke dag saam met ongelowiges. Daar is ook nie ‘n manier waarop ons hulle na Christus kan lei as ons nie met hulle ‘n verhouding bou nie. Die liefde van Christus dring ons om na sulke mense uit te reik. Miskien is dit die gesindheid wat Josafat beweeg het om met Jotam saam te gaan. Hy het selfs aan die jongman raad gegee oor watter roete hy moes gebruik om in Moab te kom. As ervare en wyse man moes Josafat die beste weet. Maar hierdie keer was Josafat se raad nie goed nie, soos ons sal sien.

Vandag sal ons met baie ongelowiges te doen kry, op en om die sportveld of by die inkopiesentrum. Ons moet daardie geleenthede ten beste gebruik. Maar dink mooi voor jy ‘n uitnodiging aanvaar na ‘n plek van hoë risiko.

Gebed: “Here, help my om gebruik te maak van elke geleentheid om in u diens te staan.”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.