Gedagte vir die dag: Waar die hart van vol is …

Foto: imageprest.com

Foto: imageprest.com

Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart en die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. (Luk 6:45)

Om te getuig is ’n natuurlike uitvloeisel van geloof. “Waar die hart van vol is, loop die mond van oor,” sê Jesus self aan sy dissipels nadat Hy hulle vertel het dat ’n boom aan sy vrugte geken word. Hoe waar dié spreekwoord is, sal jy baie goed kan sien as jy na ’n paar trotse oumas luister wat besig is om staaltjies oor hulle kleinkinders te vertel. Die dinge waaroor jy praat, wys vir ander mense wat werklik belangrik is vir jou. Aan die dinge wat jy sê, sal mense baie gou kan “hoor” dat jy ’n Christen is, net soos hulle aan die dinge wat jy doen, kan sien dat jy aan God behoort.

“Ek het geglo, daarom het ek gepraat,” herinner Paulus die gemeente in Korinte aan die Skrif (2 Kor. 4:13). Van die dag van sy bekering op die Damaskuspad het Paulus nooit opgehou om te getuig nie. Sy hele lewe was dan ook daaraan gewy om mense te oortuig om in Jesus te glo.

Indien jy ’n Christen is, behoort ander mense daarvan te weet. Kan jy dit al regkry om op so ’n natuurlike manier oor jou eie geloof te praat dat mense kan sien dat jóú hart vol is van God se liefde?

Here Jesus, my hart is vol van U – gee vir my die regte woorde waarmee ek ander mense van U kan vertel sodat my mond sal oorloop van dié dinge wat in my hart leef. Amen

Lees:  Lukas 6:43-45

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.